Pippie se dokter doen nog ʼn “wonderwerk”

Pippie Kruger, dr. Ridwaan Mia en Celiwe Maseko, voor Celiwe se operasie. Foto: Facebook

Celiwe Maseko, ʼn vyfjarige meisie van Kagiso naby Krugersdorp, se veloorplanting was suksesvol.

Dr. Ridwaan Mia, die sjirurg wat dié oorplanting uitgevoer het en die oorplanting op Pippie Kruger uitgevoer het, het Donderdag bevestig 90% van gekloonde weefsel het tot dusver suksesvol gevorm.

Maroela Media het vroeër berig Maseko het verlede Donderdag ʼn veloorplanting met gekloonde vel gekry by die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg. Maseko het derdegraadse brandwonde oor 35% van haar lyf opgedoen. Sy het op 4 Januarie die brandwonde op haar rug, maag en bobene opgedoen nadat haar rok aan die brand geslaan het. ‘n Maatjie het haar per ongeluk met ‘n brandende vuurhoutjie gegooi terwyl hulle gespeel het. Dit was die eerste keer in Afrika dat dié soort oorplanting op ʼn persoon met ʼn donker vel gedoen is.

Pippie se ma, Anice Barnard Kruger, het R500 000 vir Celiwe se prosedure geskenk uit die brandfonds wat vir Pippie gestig is. “Dit is nog ʼn wonderwerk. God is so groot en getrou niks kan Sy genade toemaak nie. Niks kan Sy almag wegsteek nie. Dr. Mia is baie tevrede met Celiwe. Ai my hart voel so trots om deel van God se groter plan te kan wees,” het sy gesê. Sy sê ook sy besef hoe groot wonderwerk Pippie was en is en sal wees en hulle is dankbaar dat hulle vir ander ook hoop kan gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.