Pistorius-familie distansieer hulself van Henke se uitlatings

Arnold Pistorius. Foto: eNCA

Oscar Pistorius se familie het gesê hulle distansieer hulself van die uitlatings wat Oscar se pa, Henke, onlangs aan ʼn koerant in Engeland gemaak het.

In ʼn verklaring wat Oscar se beeldpoetsers, Vuma Reputation Management, uitgestuur het, het Oscar se oom, Arnold Pistorius, gesê hulle is veral bekommerd oor Henke se uitlating dat hulle hul wapens gebruik om hulself teen geweld in Suid-Afrika te beskerm, asook die aanmerking oor die ANC-regering wat nie sy wit inwoners kan beskerm nie.

“Die Pistorius-familie besit wapens, maar slegs vir sport- en jagdoeleindes,” het Arnold gesê. “Oscar en die res van die Pistorius-familie distansieer onsself van dié aanmerkings. Henke se onderhoud met die koerant was nie deur ons mediaskakelbeamptes goedgekeur nie. Die aanmerkings verteenwoordig nie Oscar se siening of dié van die Pistorius-familie nie.”

Arnold sê voorts die hele Pistorius-familie, veral Oscar, sal nooit weer dieselfde wees na die tragiese gebeure op Valentynsdag toe Oscar Reeva Steenkamp “per ongeluk” doodgeskiet het nie. “Ons almal is nog in rou en moet die gebeure probeer verwerk. Vir dié rede en uit respek vir die Steenkamp-familie, gaan die Pistorius-familie nie meer enige media-onderhoude in die stadium toestaan nie,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Henke het die ANC blameer vir die voorval, aangesien die regering daarin faal om geweldsmisdaad te beveg. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Antonie ·

Henke is nie reg nie. Die ANC regering kan niemand beskerm nie, dit tel vir wit, swart, gekleur, almal!

Frikkie botes ·

Ons moet net die druk internasionaal op die ANC hou wat weier om die boere en ander blankes te beskerm en deur monde van hulle president moord op blankes aanhits deur hulle gesingery van kill the boer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.