Pistorius-familie ‘geruk’ deur moordtoneelfoto’s

Pistorius verskyn in die Pretoria-landdroshof tydens sy borgaansoek. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius se familie sê hulle is ‘geruk’ deur die moordtoneelfoto’s wat aan die media uitgelek het.

“Ons is geruk deur die grafiese foto’s van die ongelukstoneel by Oscar se huis wat in die openbare domein uitgelek het,” het Arnold Pistorius, Oscar se oom, Sondagaand in ʼn verklaring gesê. SkyNews het Vrydagoggend foto’s op sy webwerf geplaas van die toneel waar Oscar sy vriendin, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het. Een van die foto’s wys die toilet waarop Steenkamp gesit het toe sy geskiet is. Pistorius se familie het intussen hul volgehoue ondersteuning aan Oscar uitgespreek voor hy Dinsdag weer in die Pretoria-landdroshof sal verskyn. “Ons glo in hom, is lief vir hom en ondersteun hom in alles wat nog voorlê.”

Die familie sê die uitlek van bewysmateriaal voor die aanvang van die verhoor dra egter nie daartoe by dat die regsproses nie met integriteit kan voortgaan nie. “Ons het steeds vertroue in die Suid-Afrikaanse regstelsel en glo dat Oscar se weergawe van die gebeure op daardie verskriklike aand in Februarie bevestig sal word deur die getuienis wat in die hof voorgelê sal word.” Pistorius beweer hy het gedink Steenkamp was ʼn inbreker terwyl die staat meen Pistorius het haar met voorbedagte rade vermoor. Hy is in Februarie op borgtog van R1 miljoen vrygelaat.

Klik hier om die foto’s te sien. WAARSKUWING: Die foto’s kan sensitiewe kykers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.