Pistorius-familie: ‘Steenkamp se dood was ʼn ongeluk’

Oscar Pistorius

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se familie het ontken dat hy sy modelmeisie Reeva Steenkamp met opset doodgemaak het en hou vol dat Oscar haar vir ʼn inbreker aangesien het.

Henke Pistorius, Oscar se pa, het aan die Britse Sunday Telegraph gesê dat die familie “geen twyfel” het dat sy seun Steenkamp op instink doodgeskiet het nadat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het nie. “Wanneer jy ʼn sportsman is, tree jy nog meer op instink op. Dis instink – dinge gebeur en dit is wat jy doen.” Pistorius sê 89-jarige ouma, Gerti Pistorius, het aan AFP gesê Steenkamp se dood was ʼn ongeluk. “Ek weet dit was ʼn fout wat enigiemand kon maak. Ek het vertroue in my kleinseun en ek het vertroue in die saak en ek is seker dinge sal in die regte rigting gaan.” Volgens Pistorius se familie is hy “verdoof met skok asook hartseer” oor Steenkamp se dood. Die polisie het vroeër ontken dat Pistorius vir Steenkamp as ʼn inbreker aangesien het. Volgens die polisie was daar reeds voorheen verskeie “huishoudelike voorvalle” by Pistorius se huis. Die staat sal na verwagting Dinsdag tydens Pistorius se borgaansoek aanvoer dat dit moord met voorbedagte rade was.

Pistorius se agent, Peet van Zyl, het intussen Sondag aan die media gesê dat alle toekomstige renne wat Pistorius aan sou deelneem vir eers gekanselleer is. Van Zyl het Pistorius Sondag by die Brooklyn-polisiestasie, waar hy tot sy borgaansoek Dinsdag aangehou word, besoek. “Namens Oscar wil ons, sy bestuurspan, die duisende mense bedank wat boodskappe van ondersteuning gestuur het van regoor die wêreld.” Steenkamp sal intussen Dinsdag tydens ʼn private diens in Port Elizabeth veras word.

Die Suid-Afrikaanse polisie het gister ontken dat hulle kritieke inligting oor die Pistorius-moordsaak, wat in twee Sondag-koerante verskyn het, uitgelek het. Die City Press het Sondag berig dat hulle deur “in-diepte onderhoude” met bronne “naby” aan die polisie-ondersoek kan bekendmaak dat ‘n bebloede krieketkolf, wat by Oscar se huis aangetref is, as sleutelgetuienis in die hof gebruik gaan word. Die artikel beskryf ook ‘n telefoonoproep wat Oscar vroeg Donderdagoggend glo aan sy pa gemaak het, en dat die polisie glo versoek het dat Oscar vir dwelmmiddels en steroïede getoets moet word. Steenkamp, model en regstudent, is Donderdagoggend in Pistorius se huis in Pretoria doodgeskiet.

Lees ook:
Bebloede kolf glo in Oscar se huis opgespoor
Reeva se nadoodse ondersoek afgehandel
Polisie glo bang Oscar pleeg selfmoord
Oscar: Media in moeilikheid oor foto
Reeva se gedenkdiens gereël
Oscar se gesin betwis moordklag
Oscar bly in aanhouding
Oscar het Reeva glo deur toe badkamerdeur geskiet
Pistorius vandag in hof
Oscar: M-Net onttrek advertensieveldtog
Oscar-skietery: Ooggetuies beweer paartjie het gestry
Oscar gaan aand in tronk spandeer
Oscar: Staat gaan borg teenstaan
“Oscar erg geskok,” sê pa
Oscar-skietery: Medelye stroom in vir meisie
Oscar Pistorius skiet glo meisie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Juliana Raath ·

Almal is so gou om te oordeel maar ek glo Oscar is ouer as 2jaar-as hy Reeva regtig wou doodmaak of wou vermoor soos almal bespiegel sou hy n beter manier uit gedink het.Almal het hulle opinie oor die saak maar ek sal bly glo in Oscar se onskuld.En indien hy dit wel gedoen het wie is die mens om te oordeel?Is jy sonder n geraamte????Indien wel MAG jy maar die eerste klip optel en gooi.

E J Otto ·

Om 4 skote deur n deur te skiet is baie dapper! Hy was seker vreeslik bang! Sy lewe was bedreig! Kwessie van hy of sy! ………… Dis lagwekkend as mens dit glo . Punt is, sy is koelbloedig skoot vir skoot doodgeskiet! Hy, een van die vinnigstes in die wereld! ….. Nee wat, ek sukkel met die een! Hierdie is moord! Oordeel! Ek oordeel sonde! Natuurlik! Direkte opdrag van God! En Oscar hoe tragies ookal Ek glo jy het nou diepe berou ! Ek simpatiseer met beide gesinne Dis n vreeslike tragedie maar uit my oogpunt die dade van n monster! . Koelbloedige moordernaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.