Pistorius-familie wag op borguitspraak

Pistorius gister tydens die derde dag van sy borgaansoek. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius se borgaansoek sal Vrydag vir die vierde agtereenvolgende dag voortgaan met geen aanduiding oor of landdros Desmond Nair borg aan hom gaan toestaan of nie.

“Oscar en sy familie respekteer die borgaansoek proses,” het Pistorius se oom, Arnold, in ʼn verklaring gesê. “Hulle verstaan dat dit in die belang van geregtigheid is dat die proses wat met die borgaansoek gepaardgaan in geheel gevolg moet word. Dit is ʼn unieke, emosionele en moeilike tyd vir ons almal. Ons harte en gedagtes is met Reeva Steenkamp se familie in die tyd van rou.” Pistorius is op Valentynsdag in hegtenis geneem in verband met Steenkamp, sy modelmeisie, se moord.

Daar het Donderdag wetlike skermutselings tussen die verdediging en die staat uitgebreek oor of Pistorius vir Steenkamp met opset vermoor het. Adv. Gerrie Nel, namens die staat, het die dag se hofverrigtinge afgeskop met die nuus dat die ondersoekbeampte in die saak, ao. Hilton Botha, self tereg staan op sewe aanklagte van poging tot moord. Botha is later die dag as hoofondersoekbeampte in die saak onttrek. Die ondersoek sal nou deur lt.gen. Vineshkumar Moonoo en ʼn span van die land se top speurders hanteer word. In die hof het Nel aandagtig geluister toe Barry Roux, namens Pistorius, die polisie beskuldig het van swak ondersoekwerk. Roux het Pistorius en Steenkamp se verhouding as liefdevol beskryf en gesê die feit dat Pistorius vir Steenkamp by die trappe afgedra het en hulp ontbied het, wys dat hy vir haar omgegee het. Nair wou egter weet hoekom Pistorius se verklaring nie melding maak van Steenkamp se reaksie toe hy haar glo geroep voor hy skote deur die badkamer deur geskiet het nie. Roux het gesê dat dit “onwaarskynlik” was dat sy sou antwoord aangesien sy bang was. Hy het dit ook aan die hof voorgehou dat Pistorius nie ʼn vlugrisiko is nie. Nel sê Pistorius blyk onder die indruk te wees dat hy nie verhoor gaan word vir die skietery nie. Pistorius se “totale gebrek aan bereidwilligheid om verantwoordelikheid te neem vir sy dade verhoog sy vlugrisiko,” het Nel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.