Pistorius se regspan sal foto’s “bespreek”

Oscar Pistorius

Paralimpiese Oscar Pistorius se regspan sal die kwessie van ʼn foto van die badkamer waar Reeva Steenkamp doodgeskiet is en Vrydag publiseer is, “bespreek”.

Kenny Oldwage het gesê hy het nog nie die foto gesien nie, aangesien hy die hele dag nog in vergaderings was, maar dat hy en die res van Pistorius se regspan die saak sal bespreek. “Ons sal dit bespreek. Ek kan nie verdere kommentaar lewer nie,” het hy gesê.

Die foto is op SkyNews se webwerf publiseer. Die foto wys bloed op ʼn toiletsitplek, en ʼn plas bloed op die vloer. Die merke waar die koeëls die toiletdeur getref het, is ook op die foto sigbaar. Klik hier om meer te lees.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kan nie kommentaar lewer oor die foto nie,” het brig. Phuti Setati, nasionale woordvoerder van die polisie (SAPD), gesê. Setati weet ook nie hoe SkyNews die foto’s in die hande gekry het nie. “Ons wil nie ons aandag deur hierdie opsetlike taktiek laat aftrek nie. Ons wil net ʼn uitspraak verseker, so ons werk deurgaans en voer die ondersoek professioneel uit.”

Die polisie het in April beslag gelê op selfone van beamptes wat aan die saak gewerk het, toe dit aan die lig gekom het dat hulle Pistorius ná die inhegtenisneming afgeneem het. Nathi Mthethwa, minister van polisie, het in daardie stadium in ʼn geskrewe dokument bevestig dat 45 polisiebeamptes se selfone gekonfiskeer is.

Bestuur van die Boschkop-polisiestasie het glo ook beslag gelê op nog vier amptelike polisie-selfone.

Die polisie-ministerie het gesê tugstappe sal teen oortreders gedoen word. Die selfone sal as bewyse gebruik word.

Die voormalige hoofondersoekbeampte, Hilton Botha, het glo gesê mediahuise het geld vir beamptes aangebied vir eksklusiewe foto’s van Pistorius nadat hy in hegtenis geneem is vir Steenkamp se dood.

ʼn Internasionale mediahuis het glo R458 000 vir ʼn polisiebeampte aangebied vir ʼn foto van die toiletdeur.

Pistorius ontken dat hy Steenkamp vermoor het, en voer aan dat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het.

Die staat voer aan dat hy haar doodgeskiet het ná ʼn stryery en hom van moord met voorbedagte rade aangekla. Hy is op 22 Februarie deur die Pretoriase landdroshof op borg van R1 miljoen vrygelaat. Hy moet op 4 Junie weer in die hof verskyn.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.