Pistorius vandag in hof

Pistorius met sy aankoms by die Boschkop-polisiestasie. Foto: SAPA

Die Paralimpiese held Oscar Pistorius het gisternag in die aanhoudingselle van die Boschkop-polisiekantoor , oos van Pretoria, deurgebring en sal vandag in die Pretoria-landroshof verskyn op aanklagte van moord.

Pistorius (26) het gister laatmiddag steeds dieselfde grys sweetpaktop aangehad as toe hy die oggend by sy huis in die Silver Woods-landgoed in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp (30). Kenny Oldwage, Pistorius se regsverteenwoordiger, het bevestig dat sy kliënt van moord aangekla is. “Hy is emosioneel maar hy hou by.” Pistorius sal na verwagting vandag om borg aansoek doen. Die staat het reeds aangedui dat hy borg sal teenstaan. Daar is aanvanklik Donderdagoggend berig dat Pistorius gedink het Steenkamp was ʼn inbreker waarna hy haar geskiet het. Brig. Denise Beukes, woordvoerder van die polisie, het egter later die dag gesê dat die polisie nie weet waar die bewerings vandaan kom nie. Beukes het ook aan die media gesê dat daar al “voorvalle” by Pretorius se huis was. “Ek kan bevestig dat daar voorheen gevalle van ʼn huishoudelike aard by sy huis was en dit sal deel vorm van die ondersoek.” Daar is intussen ook berig dat bure ʼn stryery gehoor het voor die skietvoorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.