Plaasaanval: Bejaardes oorleef, rower sterf

ʼn Rower is Saterdag dood na hy ʼn bakkie, wat hy tydens ʼn plaasaanval gesteel het, gerol het. Die bejaarde egpaar by wie die voorval plaasgevind het, het die aanval op hul plaas tussen Zeerust en Lichtenburg oorleef.

Beeld berig Charlotte Strumpher het net erge kneuswonde opgedoen, maar Ontiretse Marumo (42), een van haar twee aanvallers, is kort daarna dood toe die gesteelde Ford Bantam-bakkie waarin hy en sy makker gevlug het, gerol het. Tshokolo Sethepo (18) het van die wrak af gevlug, maar is in hegtenis geneem nadat sy ouers hom na die polisie geneem het, het brigadier Thulane Ngubane, kommunikasiehoof van die polisie in Noordwes, gesê.

Strumpher was aanvanklik alleen op haar en haar man, Johan, se plaas tussen Zeerust en Lichtenburg toe twee rowers haar Saterdagaand oorval het. Sy is geslaan, geskop en gewurg. Johan was op die buurplaas waar hy rugby gekyk het. Albei is in hul 60’s.

Johan het na wat verneem word, onrustig gevoel en is halftyd terug huis toe. Die huis was in chaos en boeke en papiere het oral rondgelê toe hy daar aankom. Hy het na sy vrou geroep, maar sy het net flou geantwoord. Die rowers het Johan ingewag en met ’n wapen en pyp geslaan en met blompotte gegooi. Hy het verskeie snywonde opgedoen. Johan kon ’n rewolwer wat hy versteek het in die hande kry. Hy het skote afgevuur, waarna die rowers in sy bakkie gevlug het.

Die Strumphers is in dié Wilmed-hospitaal in Klerksdorp behandel en is Dinsdag ontslaan.

Lees die volle storie hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.