Plaasaanval: Gewonde man red vrou, skiet verdagtes

Alta McSeveney. Foto: Gypsey Queen Journey

Noël en Alta McSeveney, eienaars van die Impala-slaghuis in Malelane, en een van hul werknemers is Dinsdagaand glo deur twee gewapende Mosambiekers by hul plaas aangeval.

Kol. Leonard Hlathi, ʼn polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het Woensdag gesê daar word beweer dat die twee Mosambiekers die slagoffers by die plaashek van twee kante af oorval het, ʼn paar skote lukraak gevuur het, en die slagoffers met vuurwapens aangehou het.

“Een verdagte het die vrou glo met ʼn vuurwapen teen die kop geslaan. Die ander verdagte en Noël het intussen in ʼn worsteling betrokke geraak, toe die verdagte probeer het om sy voertuig se sleutels af te neem,” het Hltahi gesê.

Tydens die worsteling het die verdagte Noël in die regterkant van sy bors geskiet. Noël het intussen sy gelisensieerde vuurwapen in die hande gekry en op die verdagte teruggeskiet en gewond.

Noël het toe besef sy vrou word aangerand en het die tweede verdagte, wat ‘n vuurwapen glo teen Alta se kop gehou het, geskiet. Een van die verdagtes is noodlottig gewond. Die ander verdagte, asook Noël, is ernstig gewond. Noël en die verdagte is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die polisie het beslag gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens en vir ballistiese toetse gestuur.

Die polisie vermoed die verdagtes was verantwoordelik vir ʼn reeks gewapende rooftogte in die Malelane-omgewing.

Die McSeveney-egpaar se twee honde en ʼn vark is ʼn Maandagaand dood nadat hulle vergiftig is. Die polisie vermoed die vergiftigigng hou verband met die aanval.

Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie en sal vervolgens ʼn geregtelike doodsondersoek uitvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.