Plaasaanval in Piet Retief, Mpumalanga

Vic Mohle (73) van die plaas Varkpan naby Piet Retief in Mpumalanga is beseer ná hy glo deur vier mans aangeval is.

“Mohle het Vrydagaand omstreeks 20:00 ʼn telefoonoproep ontvang en dit het geklink of iemand hom vloek,” het kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, Maandag aan Maroela Media gesê. “Hy het sy vrou in die huis agtergelaat en is daar weg in sy blou Club Cab Ford Ranger 4×4 met registrasienommer FGC327MP.”

Volgens Hlathi het Mohle nie weer by die huis opgedaag nie.

Een van sy werknemers het vroeg Saterdagoggend by die plaas opgedaag en gesien die voertuig is nie in die motorhuis nie. Hy het by die huis gaan ondersoek instel, waar mev. Mohle bevestig het dat haar man sedertdien nog nie weer teruggekom het nie.

Hulle het geluide uit die plantasie gehoor en die werknemer het dadelik gaan ondersoek instel. Hy het op Mohle afgekom waar hy vasgebind is. Hy het die nag glo in die plantasie deurgebring en byna verkluim. Die werknemer en Mohle se vrou het die slagoffer met ʼn kruiwa teruggestoot huis toe. Hy kon wees die koue nie dadelik praat en vertel wat gebeur het nie.

Hy is na die hospitaal geneem waar hy aan polisiebeamptes gesê het vier mans het hom oorval. Hy het glo een van die mans geskiet, maar die ander het hom oorweldig en sy vuurwapen afgeneem. Hy is in die linkerbeen geskiet. Die mans het met sy vuurwapen en sy bakkie gevlug.

Enigiemand met verdere inligting word versoek om met kapt. Jabulani Lushaba by 082 373 8675 in verbinding te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.