Plaasaanvalle: Dit is tyd dat die wêreld weet

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Donderdag bekend gemaak hulle gaan ʼn memorandum aan 100 lande en internasionale organisasies rig om die realiteit van plaasmoorde onder hul aandag te bring. Hierdie stap volg in reaksie op die drie plaasaanvalle wat die afgelope paar dae plaasgevind het waarin ʼn Amerikaanse boer onder meer ook ’n slagoffer geword het, wat meer internasionale prominensie aan plaasmoorde verleen.

AfriForum het aan sy navorsingspan opdrag gegee om 100 lande en internasionale organisasies as geskikte ontvangers van die memorandum te identifiseer. Die kriteria wat vir die opstel van hierdie lys gebruik is, is die volgende:

1. Lande en organisasies wat waarskynlik nog nie bewus is van die probleem nie;
2. Lande en organisasies wat diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering kan plaas om daadwerklik op te tree oor plaasmoorde.

AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, Ernst Roets, het gesê dat die regering oneerlik met sy burgers is. “Die kommando’s is in 2003 ontbind met ʼn belofte dat alternatiewe strukture vir landelike veiligheid op die been gebring sou word. Dit het nie gebeur nie. Die regering weier om plaasmoorde in besonder tot prioriteitsmisdaad te verklaar omdat dit volgens hom bloot as deel van die breër moordkategorie beskou moet word, terwyl diefstal van koperkabels, stropery van renosters, geweld teen vroue en kinders en transitorooftogte reeds sonder veel moeite deur die regering geprioritiseer is.”

Roets het bygevoeg dat die regering die verantwoordelikheid vir hierdie aanvalle moet aanvaar solank as wat die belofte wat in 2003 met die afskaffing van die kommando’s gemaak is, naamlik dat alternatiewe strukture vir landelike veiligheid geskep sal word, nie nagekom word nie.

Op 28 Augustus sal AfriForum ook in Pretoria ʼn omvattende Stop die Moorde-veldtog aankondig.

Die slagoffers van die jongste drie plaasaanvalle is:

• Allen Rodgers (61), ʼn plaasbestuurder en Amerikaanse burger. Hy is op 13 Augustus op ʼn plaas naby Bloemfontein met kapmesse aangeval. Hy het verskeie snye en kapwonde opgedoen. Die aanvallers het ook sy vriendin vasgebind en aangerand.
• Ronel van Eyk (46). Sy is op 13 Augustus by die hek van haar plaas naby Hartbeesfontein vermoor nadat sy haar negejarige seun, Freddie, by die skool afgelaai het. Sy is herhaaldelik geskiet, onder meer in die gesig.
• Owen Charles (70) is op 12 Augustus op ʼn plaas naby Jansenville vermoor. Sy vrou, Janet (70), is ook met messe en stomp voorwerpe aangeval en is in ʼn ernstige toestand. Die aanval het op haar verjaarsdag plaasgevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marthie ·

eks so bly dat daar nou opgetree word, hoeveel boere en gesinne moet nog deur hierdie wandade getref word, besef hulle nie as daar nie plase is nie, is daar ook nie voedsel nie, kom vat liewer hande en bou ons nasie tot ‘n vooruitstrewende boerdery gemeenskap wat die behoeftes van Suid-Afrika sowel as ander buurstate en ander lande kan help met hul tekore. Mag ons boere geseend wees.

Mike ·

Nog ‘n poging wat op niks sal uitloop nie, dit gaan al vir jare so aan. Hier is my voorstel; Vra die buiteland vir ekonomiese sanksies teen SA en vra dat lande wat met SA handeldryf geboikot moet word. Maak dit bekend dat lande wat met SA handeldryf indirek saam verantwoordelik is vir al die misdaad in SA. Maak dit bekend aan hulle dat hulle produkte in SA geboikot gaan word ens ens. Slaan hulle op die sak waar die beursie sit en hou op om geld en tyd te mors met goed wat nie werk nie, menselewens is op die spel.

Engela ·

Heg die fotos met die nodige toestemming van familielede van die mense wat gesterf het aan hierdie dokumente aan die buiteland. Mense lees elke dag van die gruwelike dinge. maar glo my, totdat jy dit nie die dag GESIEN het nie besef jy nie ten volle hoe afgryslik dit is nie. Dalk sal daar iets aan gedoen word die dag wat mense tot in hulle fondamente geskok word deur die naakte waarheid.

Mike ·

Dit word al vir jare gedoen, die buiteland steur hulle nie daaraan nie. Baie meer drastiese stappe soos ekonomiese boikotte is nodig maar die boere self doen ook nie veel om hulleself te beskerm nie. Ons het vasgesteek by nuttelose petisies en optogte en die mense wat dit reel het nie die vaagste benul van afrika denkwyse en kultuur nie

JOSSIE ·

Hoe hartseer maak dit my om te sien dat ons pragtige land in wreedhied en hebsug verval!!! n mens se lewe het geen waarde meer nie! Selfs televisie is gegrond op geweld,opstokery en pornografie! Ons land het GOD nodig,nou meer as ooit! bid vir ons boere en dat GOD ons land weer herstel tot SY EER EN GLORIE!!!

Dean Gilbert ·

Ja die wereld moet weet my vraag is Zuma(verskoon die gebruik van die naam, ek sien nie hoekom ek na hom as Mnr moet verwys nie) kan bitter vinnig van Maputo terugkeer om n spesiale ondersoek te las oor die dode van die mynwerkers(indien wel almal) ek het nog nooit gesien of gehoor dat hy medelye teenoor enige slagoffer of familielid van ‘n plaasaanval betoon het of n ondersoek las nie. En as mens kyk na die manier wat dit in die internasionale media gedra word is dit eintlik skandelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.