Plaasaanvalle: Elf reeds dood in 2013

Treurgrond

Die TLU het Dinsdag aan Maroela Media bekend gemaak dat 11 mense reeds vanjaar gesterf het tydens plaasaanvalle regoor die land. Dertig plaasaanvalle het reeds sedert die begin van die jaar plaasgevind.

Volgens die TLU se inligting is vyf mense in Gauteng vermoor, een in Noordwes, een in Natal, een in die Wes-Kaap en drie in die Vrystaat. ʼn Tabel van dié inligting verskyn aan die onderkant van die berig.

Dié inligting kom op die vooraand van Kraal Uitgewers se nuutste boek, Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012, wat Woensdag by die Woordfees in Stellenbosch tydens ʼn boekgesprek bekendgestel gaan word.

Volgens dr. Dirk Hermann, een van die samestellers van dié nuwe uitgawe van die boek wat die eerste keer in 2011 uitgegee is, verleen Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 tot 2012 ʼn nuwe dimensie aan die debat oor plaasaanvalle.

“Nie net bevat dié boek nou inligting oor meer as 3 300 plaasaanvalle – sowat 700 meer as in die vorige uitgawe – nie; dit is nou ook amptelik die grootste en betroubaarste databasis van plaasaanvalle. Treurgrond ondersoek plaasaanvalle vanuit ʼn nuwe perspektief. Dié boek vertel van die letsels wat dié misdaad laat soos deur die oë van slagoffers, familie, geliefdes, digters en ʼn kunstenaar gesien. Treffende kunswerke van die bekroonde Vrystaatse kunstenaar, Pauline Gutter, is ook in dié boek ingesluit,” verduidelik hy.

Hermann beklemtoon dat die kwessie van plaasaanvalle toenemend meer prominent na vore kom in kuns – met verskeie sangers insluitend Adam Tas en Albert de Wet, kunstenaars soos Pauline Gutter en selfs skrywers soos Karin Brynard in haar trefferboek, Plaasmoord, wat dié onderwerp aanraak. Volgens Hermann dui dit daarop dat dié saak nie meer net vanuit ʼn eksklusiewe groep beveg word nie, maar nou toenemend deel vorm van die sosiale dialoog. Dit is juis om dié rede dat besluit is om Gutter se treffende reeks, Opslag, sowel as verskeie gedigte met dieselfde tema by dié boek in te sluit om saam met die persoonlike vertellings van slagoffers, familie en vriende van slagoffers opgeteken te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.