Plaasaanvalle: TLU begin veldtog

Ses boere is in Januarie in verskillende dele van die land vermoor, het TLU SA Dinsdag aangekondig.

“Sedert die begin van Januarie vanjaar is ses landbouprodusente reeds op hulle plase vermoor in vergelyking met die een moord verlede jaar Januarie,” het TLU in ʼn verklaring gesê. Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder, sê dit is totaal onaanvaarbaar. “Ons poog nou al jare lank om die Suid-Afrikaanse regering te oortuig om aksie te neem. Tot dusver het niks wesenliks gebeur nie, en al antwoord wat ons gekry het, is dat plaasmoorde nou ‘hoogstens kommerwekkend is, maar nie meer ’n prioriteit is nie’. TLU SA kry die indruk dat die regering ’n dowe oor na ons keer en daarom het ons nou geen ander keuse nie as om van ander metodes en kanale gebruik te maak om te poog om ons landbouprodusente, wat die land se voedselvoorsieners is, te beskerm,” lui die verklaring.

TLU SA het intussen bekendgemaak dat hy die week ʼn veldtog teen plaasmoorde van stapel sal stuur. “Ons kan dalk nie getel word in terme van ons getalle nie omdat daar maar ongeveer 35 000 kommersiële voedselprodusente oor is. Ons behoort egter geweeg te word in terme van ons bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. As ons egter die Suid-Afrikaanse verbruiker kan mobiliseer in steun vir die voedselprodusente, kan hierdie gewig in terme van ekonomiese meting heelwat swaarder word.” TLU SA sal ook internasionale bewusmaking doen om plaasmoorde onder ander lande se aandag te bring.

TLU SA het ʼn SMS-lyn in werking gestel waardeur mense ’n boodskap van steun kan gee en ook ’n klein donasie kan maak wat gedeeltelik gebruik sal word vir die organisasie se internasionale bewusmakingsveldtog en traumafonds, wat bedoel is om slagoffers van plaasaanvalle te ondersteun.

Mense wat TLU SA se aksies in hierdie verband wil ondersteun, word gevra om ‘n kortboodskap (SMS) te stuur na 48716 en die woord TLUSTOP as boodskap in te tik. Elke boodskap kos R10. Mense kan ook hulle naam plaas op TLU SA se webblad as deel van ’n petisieveldtog teen plaasmoorde. Die webadres is www.tlu.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Serfontein ·

As ons dink die regering gaan iets omtrent die plaasmoorde doen leef ons in droomwereld. Die anc regering kan nie sien wat met die hele afrika gebeur het nie. Al wat hulle sien is n wit boer en dit is vir hulle n pyn in die nek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.