Plaasaanvaller glo vry weens polisienalatigheid

AfriForum oorweeg regstappe teen ʼn ondersoekbeampte van die polisie nadat ʼn saak van die rol geskrap en ʼn plaasaanvaller op vrye voet is weens growwe nalatigheid van die polisie.

Noël McSeveney, en sy vrou, Alta, is in Junie 2013 op hulle plaas buite Malelane, Mpumalanga deur twee aanvallers oorval. Noël is in die aanval gewond en het, in sy poging om hom en sy vrou te verdedig, een aanvaller doodgeskiet en een gewond.

Volgens Nantes Kelder, hoof van AfriForum se ondersoekeenheid, het die saak teen die beskuldigde drie keer in absentia voorgekom. Die ondersoekbeampte het volgens inligting nagelaat om ʼn mediese verslag by die hof in te dien wat bevestig dat die beskuldigde steeds in die hospitaal behandeling ontvang, en as gevolg daarvan is die saak deur die hof van die rol geskrap.

AfriForum se ondersoekeenheid het vroeër vanjaar ook ʼn verslag bekendgemaak rakende die foute wat die polisie maak tydens die ondersoek van plaasaanvalle. “Dit is blatante nalatigheid van die polisie dat ʼn plaasaanvaller op vrye voet is en die slagoffers nou in vrees moet leef; die ondersoekbeampte moet verantwoordelikheid neem hiervoor,” het Kelder gesê.

AfriForum sal die saak namens McSeveney hanteer. Kelder het bygevoeg dat die voorkoms van plaasaanvalle en geweldsmisdade onaanvaarbaar hoog is. “Juis daarom behoort sake van hierdie aard met groot omsigtigheid hanteer te word om te verseker dat geregtigheid geskied,” het hy gesê.

ʼn Lasbrief is intussen vir die beskuldigde se inhegtenisneming uitgereik, maar AfriForum het verneem dat hy nie opgespoor kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Otto ·

Hoe kan n mens vergeet van so iets? Is daar nie veronderstel om opvolging te doen nie?is daar nie n dokket vir die misdadiger oop gemaak nie? Wys julle nou net wie is in beheer van ons land !

Willy Johnstone-Robertson ·

Dit is wanneer onbevoegdes in poste sit. Dit gebeur al hoe meer.

Nico ·

Dit is belaglik. Hulle moet mense wat nalatig is met hul werk waarvoor hulle vergoed word sumier afdank want hul is onbekwaam. Onskuldige mense moet ly onder nalatigheid van mense wat in poste is waar hul nie hoort nie. Lone word betaal aan mense wat nie in hul poste hoort nie. Ons land het van die beste wette maar dit word nie toegepas nie weens onbekwaamheid. Hoeveel dockets word nie net vernietig nie deur omkopery. Dis belaglik en as dit so aanhou sal ons die wet in eie hande moet neem. My hart gaan uit na die Mc Seveney gesin. Sterkte ons dink aan julle.

Sarie van Niekerk ·

Dit beteken nie dat hy nie weer hof toe geneem kan word nie. Die saak is net tydelik van die rol geskrap om die polisie die geleentheid te gee om die saak volledig te ondersoek en die beskuldigde om te herstel in die hospitaal. Hy kan weer aangekla word sodra die saak klaar ondersoek en hy uit die hospitaal is.

Gert Malan ·

Dis om van naar te word! Sekere weer ‘n trawant van die aanvaller! Ek wonder hoeveel is hy betaal om nie die verslag in te handig nie.

Hannes ·

“ʼn Lasbrief is intussen vir die beskuldigde se inhegtenisneming uitgereik, maar AfriForum het verneem dat hy nie opgespoor kan word nie.”

Soos dit vir my lyk het hy lankal pad gevat en die ondersoek beampte was nie eers daarvan bewus nie. Klink vir my een plus een maak nie twee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.