Plaasmoord-aktivis met FAK-logo geïnk

Stanley Cierenberg het pas die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se embleem op sy borskas laat tatoeëer. (Foto: Verskaf)

“Dit is my trots, my volk en my taal. Ek het dié embleem op my laat tattoo om vir die wêreld te wys dat ek Afrikaans is.”

Só sê Stanley Cierenberg wat pas die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se embleem op sy borskas laat tatoeëer het. Cierenberg – digter, skrywer en plaasmoord-aktivis – se hele lyf vertel ʼn storie in ink.

Toe hy verlede Saterdag die Voortrekkermonument in Pretoria besoek het, het Cierenberg verby die FAK se hoofkantoor op dié terrein geloop en ʼn foto van die organisasie se staalembleem teen die muur geneem. Maandag het hy dié embleem op sy borskas, net onder die woord “vryheid”, met ʼn bloedrooi vlam laat tatoeëer.

“Ons het klaar oorwin. Dit is ʼn vlam van oorwinning vir ons taal,” sê Cierenberg.

Op die vraag of dit seer was om iets so naby aan sy eie hart met inknaalde te verewig, antwoord hy: “Dit was bitter seer. Verskriklik seer. Daar is net vel en been dáár.”

Cierenberg, wat voorheen as ʼn “volksvreemde” aktivis teen plaasmoorde bestempel is, het ʼn foto van die FAK-embleem op sy bors geneem en aan die FAK gestuur met die woorde: “My nuwe tattoo verteenwoordig dat ons klaar gesoebat en gevra het, maar saam sal ons sing. Die vlam van oorwinning brand in ons harte. Vir die FAK.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê dit is die eerste keer sedert 1929 dat die FAK-embleem op dié kreatiewe en onkonvensionele wyse gebruik word. Dit is duidelik dat Cierenberg se hartklop vir taal, kultuur en geskiedenis helder brand, meen Langner.

Twee digbundels, Vaderland en Moedertaal, het al uit Cierenberg se pen verskyn. Hy het ook bekendheid verwerf vir sy eindelose empatie met slagoffers van plaasaanvalle. Hy woon hofsake en begrafnisse by en skryf gedigte vir die slagoffers en hul geliefdes. Dele van sy gedigte is saam met die slagoffers se name op sy lyf getatoeëer.

Op die vraag waarom hy hom spesifiek op plaasmoorde toespits, sê Cierenberg dit is grootliks uit respek vir plaasboere. “As dit nie vir hulle was nie, het ons nie kos op die tafel gehad nie. Boere moet hard werk om hul gesinne te onderhou.”

Volgens Cierenberg was hy eendag in ʼn winkel om ʼn T-hemp te koop toe die assistent hom vra of hy van Brendin Horner gehoor het, “want dit is verskriklik wat met hom gebeur het”.

Twee digbundels, ‘Vaderland’ en ‘Moedertaal’, het al uit Stanley Cierenberg se pen verskyn. (Foto: Verskaf)

Cierenberg het in daardie stadium nie geweet wie Horner was nie. Die assistent het hom glo vertel dat “dit die kind is wat wreed in ʼn plaasaanval vermoor is”. Sy vra toe vir Cierenberg waarom hy nie iets daaroor skryf nie.

“Ek het huis toe gegaan, koffie gemaak, die rekenaar aangesit, Horner se storie gegoogle en daardie gedig vir hom geskryf,” onthou Cierenberg. Die gedig het op Horner se begrafnisbrief verskyn.

Cierenberg het later die gedig ook op Facebook gedeel en dit by die Voortrekkermonument op video voorgelees.

“Skielik het alles ontplof. Almal het dit gelees. Van toe af ry ek met elke plaasmoord waarvan ek hoor monument toe.”

Ina Bonette, wat ʼn wrede aanval deur haar eksman, Johan Kotzé, die sogenaamde “Modimolle-monster”, oorleef het, het intussen ook vir Cierenberg gevra dat hy vir haar ʼn gedig skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nefie ·

Al is tatoeëermerke nou nie my smaak nie, het ek die grootste respek vir iemand wat op so manier opstaan vir waaraan hy glo. Baie dankie daarvoor.

AW ·

Jou lewe, jou liggaam.

Tog

Daar sal “DIE” wees , wat nie veel van jou sal of gaan dink nie.

Maar dis okay !!

Wakkerslaper ·

Jammer AW… stem nie saam. Godgegewe lewe, Godgegewe liggaam….

“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” 1 Kor 6:19

Anoniem ·

Oeee-e-e. Nou nie iets wat EK sal doen nie. Al daai prentjies is iets om van deurmekaar te raak. As hy eendag ń operasie moet ondergaan, sal die snydokter ook die pad byster raak met al daai ekstra lyne…

piet ·

Die merk(e) van die dier. Liggaam is die tempel van God, ens. Ek weet darem nie so mooi nie. Persoonlik lyk die ou vir my na ‘n tor met al die merke.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Van is op die strand en gewaar ‘n ou vol tatoeërmerke. Hy gaan langs hom lê en beskou hom aandagtig. Na so ‘n paar minute sê ou Van: “Draai asseblief om sodat ek die res van jou ‘comic’ kan lees.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.