Die plaasvoorman wat Maandag op die mielieplaas Elandsfontein naby Bapsfontein geskiet is, se naam is bekend gemaak.
Maroela Media het Dinsdag berig die plaas se eienaar, Gert van Wyk (40), en die voorman, Edward Fouché (30), is Maandag in die landerye by ʼn stalletjie aangeval deur mans wat voorgegee het dat hulle mielies wil koop. Van Wyk is deur die groep aanvallers in die rug geskiet en Fouché is op die toneel doodgeskiet. Fouché se naam kon Dinsdagoggend nog nie bekend gemaak word nie, aangesien sy naasbestaandes nog nie in kennis gestel is nie.
Die groep rowers het daarna na Van Wyk se kantoor by die huis gegaan waar die verdagtes sy vrou, Retha, aangehou en beroof het. Hulle het in ‘n blou Nissan-bakkie van die toneel gevlug. Van der Berg is in ‘n stabiele toestand in ‘n hospitaal in Kemptonpark. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die verslag (onder) van eNuus is gisteraand oor die voorval uitgesaai. eNuus word daagliks om 19:00 op kykNet kanaal 144, Dstv uitgesaai.