Plaasmoorde: AfriForum en bekendes trek die swaard uit die skede

Foto: Phillip Bruwer

AfriForum, met die ondersteuning van kunstenaars, waaronder Steve Hofmeyr, Bobby en Karlien van Jaarsveld, Chris Chameleon, Gerrie Pretorius, Pieter Koen en die meisiesgroep MWAH!, het Dinsdagaand amptelik onderneem om plaasaanvalle te beveg.

AfriForum het tydens ʼn swierige geleentheid by die Brooklyn-teater in Pretoria hul Stop Die Moorde-veldtog van stapel gestuur waarin gewone Suid-Afrikaners aangemoedig word om betrokke te raak in hul gemeenskappe om sodoende misdaad te help bekamp.

Die dokumentêr War of the Flea wat deur Rian van der Waldt vervaardig is, is tydens die geleentheid vertoon. Die dokumenter het ʼn gesig aan die plaasmoordestatistiek gegee en daar was omtrent nie ʼn droë oog in die gehoor nie. “Die doel van die dokumentêr is om mense bewus te maak van die moorde en ondersoek moontlike oorsake en oplossings vir plaasaanvalle. Die naam van die dokumentêr is ʼn guerillaoorlogsvoering-taktiek. ʼn Klein vlooi kan ʼn groot hond laat vrek deur hom aanhoudend op verskeie strategiese plekke aan te val totdat die hond oortrek is met vlooie en siekte,” het Van der Waldt gesê.

In die dokumentêr kom die boodskap duidelik uit dat dit ʼn groter risiko is om ʼn boer te wees as om ʼn polisieman te wees. Een van die vriende van ʼn boer, wat gesterf het toe hy vir kilometers ver agter sy bakkie op ʼn growwe klippad gesleep is, het gesê mens kan nie eens ʼn dier só dood maak nie.

Nog ʼn treffende aanhaling uit die dokumentêr is dat die regering nou reeds sy hande vol het met betogings oor swak dienslewering, maar as boere teen dié tempo uitgemoor word, gaan die regering groter probleme hê om ʼn hele bevolking te hanteer wat honger is.

Ernst Roets, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, het na afloop van die dokumentêr gesê dat die regering oneerlik met sy burgers is. “Die kommando’s is in 2003 ontbind met ʼn belofte dat alternatiewe strukture vir landelike veiligheid op die been gebring sou word. Dit het nie gebeur nie. Die regering weier om plaasmoorde in besonder tot prioriteitsmisdaad te verklaar, omdat dit, volgens hom, bloot as deel van die breër moordkategorie beskou moet word.,Diefstal van koperkabels, stropery van renosters, geweld teen vroue en kinders en transitorooftogte is egter reeds sonder veel moeite deur die regering geprioritiseer,” het Roets gesê.

Roets het bygevoeg dat die regering die verantwoordelikheid vir hierdie aanvalle moet aanvaar solank as wat dié belofte (dat alternatiewe strukture vir landelike veiligheid geskep sal word), nie nagekom word nie.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het tydens die geleentheid gesê as ʼn boer doodgemaak word, word ʼn plaas doodgemaak. “Staan op en doen iets, vat hande, ons moet ons plase beskerm. Ons plase is ons boere, hulle werkers, voedselversekering en ons ekonomie,” het Hermann gesê.

Die Stop die Moorde-veldtog bestaan uit een dosyn projekte om plaasaanvalle te bekamp. Dit behels bewusmaking, om meningsvormers te betrek, gemeenskapveiligheidsnetwerke, navorsing, steunwerwing onder ander instansies, ʼn regstrategie, stryd teen haatspraak, voorbereiding vir ʼn internasionale veldtog, ʼn nasionale dag van protes, skakeling met die polisie, plaaslike betogings en bystand aan slagoffers. Lees meer hier.

Die kunstenaars het hul steun aan die veldtog getoon deur ʼn verklaring te onderteken. “Selfs al word betogings gehou om toe te sien dat landsburgers se regte beskerm word, moet mense steeds stappe doen om hul lewens teen misdadigers te beskerm,” het Bobby van Jaarsveld gesê. “Suid-Afrikaners moet aanhou om druk op die regering te plaas totdat hulle gehoor gee aan ons eis om in ’n veilige land te leef,” het Van Jaarsveld bygevoeg.

[nggallery id=70]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.