Plaasmoorde: “ANC moet verantwoordelikheid aanvaar” sê AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag gesê dat Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, se pogings om die regerende party van die plaasmoordkrisis in die land te verontskuldig, doelbewus die feit ignoreer dat die ANC direk aandadig is daaraan om ʼn haatdraende klimaat te skep. In dié klimaat floreer plaasmoorde. AfriForum se kritiek volg op Mantashe se stelling in die media ter verontskuldiging van die ANC dat die party nie op elke plaas kan wees nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, dra die ANC se stilswyende goedkeuring en selfs aktiewe steun vir haatspraak wat op boere, Afrikaners en wittes oor die algemeen gemik is, direk daartoe by om omstandighede te skep waarin sommige mense nou dié groepe as geregverdigde teikens sien.

“Solank as wat die ANC voortgaan om te swyg wanneer ANC-leiersfigure soos Ronald Lamola sê dat hy nie die Van der Merwes en Van Tonders (Afrikaner-vanne) se veiligheid kan waarborg nie en solank die ANC aanhou om in die hof te veg vir die reg om te sê dat Afrikaners en boere honde is wat geskiet moet word, kan die ANC vir plaasmoorde aanspreeklik gehou word,” het Kriel gesê.

Kriel het ook daarop gewys dat die ANC vir Julius Malema, die geskorste ANC-jeugligaleier, onskuldig bevind het aan klagtes dat sy stelling, dat wittes kriminele is en soos kriminele hanteer moet word, rassepolarisasie veroorsaak.

Die ANC se versuim om as regerende party verantwoordelikheid om plaasmoorde te takel aanvaar, bevestig dat AfriForum volstoom met sy Stop die Moorde-veldtog moet voortgaan. Die publiek kan dié veldtog steun deur die webwerf, www.stopdiemoorde.co.za, te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

Die ANC se hande is so besmet met die bloed van blanke Afrikaners in hierdie land, dat niks dit ooit weer kan afwas nie. Mantashe kan nie nou sy skouers optrek en vra “wat wil hulle van ons he, wat moet ons doen?” Daar is baie dinge wat hulle kan doen. Hulle kan geweldsmisdade as prioriteitsmisdade beskou, hulle kan die kommandostelsel terugbrig, hulle kan minder opruiende toesprake lewer, hulle kan vir Julius Malema uit die samelewing verwyder, sluit die mannetjie toe want hy is so skuldig aan hoogverraad met sy opruiende optredes soos wat die Boeremaglede nooit kan wees nie en die sit al tien jaar in die tronk en die ANC kan die doodstraf terugbring. As die Grondwet elke mens se reg op lewe waarborg, dan waarborg dit mos ook die vermoordes se lewens, nie net die misdadigers sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.