“Plaasmoorde: Genoeg is genoeg!”

Die Solidariteit Beweging sê plaasmoorde in Suid-Afrika het nou ʼn krisispunt bereik en daadwerklike optrede is nou noodsaaklik om die probleem te pak en dit as ʼn prioriteitsmisdaad te laat klassifiseer.

Die Solidariteit Beweging se uitgewersmaatskappy, Kraal Uitgewers, gaan binnekort, met die ondersteuning van Solidariteit en AfriForum, ʼn veldtog teen plaasaanvalle van stapel stuur. Dit volg in reaksie op die reeks plaasaanvalle wat reeds sedert die begin van die jaar die landbougemeenskap teister. In die jongste aanval is die 36-jarige Christo Jansen van Rensburg van die Heilbron-omgewing Dinsdag deur aanvallers vol petrol gegooi en aan die brand gesteek. Hy het die aanval oorleef, maar ernstige brandwonde opgedoen. In nog ʼn aanval is Dave Foxon (43) op ʼn vakansieplaas buite Hazyview koelbloedig voor sy swanger vrou en twee kinders vermoor.

Die Solidariteit Beweging sê dit gaan onder meer ʼn projek behels waarin alle Suid-Afrikaners wat deur plaasaanvalle geraak is, hulle stories kan vertel sodat dit in ʼn nuwe “boeke-monument” oor plaasaanvalle opgeteken kan word. Die organisasies gaan ook druk plaas op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om plaasaanvalle as ʼn prioriteitsmisdaad te klassifiseer. “Die landbougemeenskap leef reeds vir jare in vrees en nuwe voorvalle van plaasaanvalle word byna daagliks aangemeld,” verduidelik dr Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit. “Intussen hou die polisie en die regering hulself doof vir die probleem en probeer die boeregemeenskap paai met praatjies van ʼn landelike veiligheidsplan. Die SAPD het reeds ʼn maand gelede aangekondig dat ʼn veiligheidsplan binnekort bekendgestel sal word, wat onder na polisie-sigbaarheid in landelike gebiede, dienslewering by polisiestasies en die verhouding tussen die polisie, plaasgemeenskappe en die uitgebreide landelike gemeenskappe sal kyk. Daar het egter nog niks van hierdie beloftes gekom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gloudie Thomas ·

My Pa is ook vermoor op 20 Junie 2012 Johan van Rensburg!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.