Plaaswag help vermeende veediewe aankeer

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Danksy uitstekende samewerking tussen plaaslike buurtwagte en die polisie in die Vrystaat is sewe vermeende veediewe agter tralies.

Lede van die Bothaville-plaaswag in die Vrystaat het ʼn wenk ontvang oor verdagtes wat van plan is om op ʼn plaas in die distrik toe te slaan. Polisiebeamptes het die wenk opgevolg en vier verdagtes is omstreeks 03:00 op die R59-pad tussen die Vaalrivierbrug en Leeudoringstad opgemerk en voorgekeer.

Die polisie het ʼn geslagte koei agterop die vier verdagtes se bakkie aangetref en daarop beslag gelê.

“Daar is bevind die brandmerk op die bees is dié van ʼn boer in die Bothaville-distrik,” sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.

“Die verdagtes tussen 24 en 33 jaar oud, woonagtig in die Kgotsong-nedersetting naby Bothaville, kon nie dokumente aan die polisie toon as bewys dat hulle in besit van die bees mag wees nie,” sê Thakeng.

Die boer aan wie die bees behoort het, het ʼn klag van veediefstal by die polisie aanhangig gemaak nadat hy besef het dit is gesteel.

In ʼn tweede, onverwante voorval het die polisie later dieselfde dag nog drie verdagtes in hegtenis geneem tydens ʼn roetinepatrollie naby die Bothaville- en Hoopstadpad.

Volgens Thakeng is 10 lewende skape in die verdagtes se besit gevind.

Ook dié verdagtes kon geen bewyse lewer dat die vee aan hulle behoort nie.

“Meer beamptes op patrollie en goeie samewerking met die plaaswag het ʼn deurslaggewende rol in die sake gespeel,” sê Thakeng.

Al sewe verdagtes sal volgende week in die landdroshof op Bothaville verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.