ʼn Ondersoek is van stapel gestuur nadat ʼn plakker met die woorde “You can run but you will die tired” en ʼn prentjie van ʼn geweer op ʼn polisiebakkie gesien is.
Brigadier Thulani Ngubane, ʼn woordvoerder van die Noordwes-polisie, was geskok om te hoor dié plakker is op ʼn ongemerkte polisievoertuig aangebring, berig The Star.
Volgens die berig is die voertuig opgemerk enkele meters van waar 34 stakende mynwerkers verlede jaar op 16 Augustus by Lonmin se Marikana-myn doodgeskiet is.
“Ons sal ondersoek instel en uitvind wie die bakkie bestuur en die nodige stappe neem,” het Ngubane gesê. Volgens Ngubane word verpersoonliking van polisievoertuie verbied behalwe as spesiale toestemming verkry word.
– Sapa