Planne vir Pelgrimsrus

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê verskeie staatsdepartemente die stryd aan om Pelgrimsrus as ʼn nasionale erfenisterrein te laat verklaar.

AfriForum het Donderdag gesê hulle tree as eerste applikant tot die hofstryd toe om verskeie staatsdepartemente, onder meer die Mpumalangase departement van openbare werke, paaie en vervoer, deur middel van ʼn interdik te dwing om ʼn rehabilitasieplan aan AfriForum, verskeie besigheidseienaars en die hof te verskaf vir die instandhouding van Pelgrimsrus, asook om dié museumdorpie te laat opgradeer vanaf ʼn provinsiale erfenisterrein na ʼn nasionale erfenisterrein.

Die hofstukke is reeds opgestel en sal binnekort op die betrokke staatsdepartemente beteken word.

“Dit is baie teleurstellend dat gemeenskappe toenemend gedwing word om die hof te nader om die staat te dwing om hul pligte na te kom,” het Ivan Herselman, AfriForum se organiseerder vir Mpumalanga, gesê.

Maroela Media het op 26 Julie berig die hooggeregshof in Pretoria het ten gunste van Pelgrimsrus-sakelui beslis om te keer dat hulle uit hul persele gesit word. Die groep besigheidseienaars het ʼn dringende aansoek by die hof ingedien om hul uitsetting te verhoed.

Dit volg nadat die departement van openbare werke in Mpumalanga verskeie ondernemings kennis gegee het om teen 1 Augustus hul persele te ontruim nadat nuwe tenders vir okkupasie aanvaar is. Die geboue in die dorp behoort aan die departement. Die betrokke ondernemings moes binne 30 dae die persele verlaat. In hierdie stadium mag die departement nie met die uitsettings voortgaan of nuwe tenders toestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.