Platinummyn in Pretoria se agterplaas beoog

Argieffoto

Die burgerregtegroep AfriForum het verskeie klagtes van inwoners van die Doornpoort-gemeenskap in die noorde van Pretoria ontvang, nadat dit aan die lig gekom het dat ‘n platinummyn in die omgewing dalk opgerig gaan word.

“AfriForum is bekommerd oor beplande mynbedrywighede in hierdie gebied as gevolg van die groot hoeveelheid wonings en kleinhoewes in die onmiddellike omgewing. Hierdie myn sal ʼn reuse-impak op grondwater, infrastruktuur en geraasvlakke hê, wat op sy beurt die plaaslike gemeenskap en die omgewing negatief gaan beïnvloed,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, Donderdag gesê.

AfriForum is baie bekommerd dat die R101-pad gebruik sal word vir die vervoer van die mynprodukte. “Planne wat deur die myn ingedien is, dui nie behoorlik aan watter toegangsroetes gebruik gaan word of waar die water vandaan gaan kom nie. Geraasvlakke, stof en ontploffings sal die omliggende gemeenskap raak. ʼn Mens moet in gedagte hou dat die belange van die gemeenskap in ag geneem moet word voordat daar geprospekteer kan word,” het Kleynhans bygevoeg.

“In die verlede het verskeie gemeenskappe die burgerregte-organisasie genader om hierdie soort ontwikkeling namens hulle teen te staan, en nie besef dat hulle self aan die proses moet deelneem ten einde ingeligte besluitneming te verseker nie.”

AfriForum is bekommerd oor die minimum vereistes wat in omgewingswetgewing ingeskryf is, wat aandui dat daar voldoende openbare deelname was. “Die minimum vereistes om ‘n projek van hierdie omvang van stapel te stuur, is telkemale as onvoldoende bewys. Gemeenskappe raak eers van die myn in hulle agterplase bewus nadat die permit reeds toegestaan is, en dan is dit te laat.”

Inwoners van Doornpoort en omliggende gebiede word aangemoedig om te registreer en hul besware te lê in die openbaredeelnameproses. Die volgende boodskap moet per e-pos gestuur word aan [email protected]: “I would like to register as an Interested and Affected Party on the proposed prospecting application of PROPOSED PROSPECTING RIGHT APPLICATION ON THE REMAINDER OF THE FARM DOORNPOORT 295 JR.”

“Ons staan nie mynontwikkeling teen nie, maar ons is gekant teen ontwikkeling wat in ekologies sensitiewe gebiede en vleilande plaasvind en wat ‘n nadelige uitwerking op menslike en omgewingsgesondheid sal hê,” het Kleynhans gesê.

AfriForum is bekommerd oor hierdie bepaalde mynontwikkeling omdat dit ʼn presedent kan skep vir soortgelyke ontwikkeling en omdat dit die plaaslike gemeenskap negatief kan beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.