Ploftoestel gevind in Eastgate-winkelsentrum

Die polisie het bevestig dat daar Maandagoggend ʼn ploftoestel gevind is in die Eastgate-winkelsentrum aan die Oos-Rand.

ʼn Polisiewoordvoerder, lt kol Katlego Mogale, sê ʼn juwelierswinkel in die sentrum het omstreeks 11:00 Maandagoggend ʼn brief gekry op ʼn toonbank in die winkel. Sy sê die brief het beweer dat daar ʼn bom in die sentrum was. Mogale sê die sentrum is ontruim voor die polisie se bomopruimingseenheid en honde-eenheid ʼn verdagte tas voor die juwelierswinkel gekry het. Sy sê ʼn ploftoestel is in die tas gevind en gedeaktiveer. Intussen is daar op veral sosiale netwerke bespiegel oor ʼn harde slag wat by die sentrum gehoor is. Volgens berigte het die polisie ʼn ontsteker gebruik om die ploftoestel te deaktiveer en is dit die slag wat gehoor is. Mogale sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die winkelsentrum was teen 15:00 steeds gesluit vir lede van die publiek met talle polisiebeamptes op die toneel en omstanders wat buite die sentrum bymekaargekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.