PMB-burgemeester in ongeluk

Chris Ndlela. Foto: msunduzi.gov.za

Chris Ndlela. Foto: msunduzi.gov.za

Chris Ndlela, die burgemeester van die Msunduzi-munisipaliteit in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, sy lyfwag en bestuurder was Maandagoggend in sy amptelike voertuig in ʼn ongeluk met ʼn munisipale vragmotor betrokke.

“Die burgemeester was op pad na ʼn vergadering toe sy voertuig en ʼn vragmotor op die N3-snelweg naby die Mariannhill-tolhek gebots het,” het Brian Zuma, die munisipaliteit se woordvoerder, gesê.

Volgens Zuma is die drie na die Hillcrest-hospitaal geneem vir ʼn ondersoek, maar hulle is nie beseer nie.

Paramedici van ER24 het egter vroeër in ʼn verklaring gesê ʼn hoëprofiel-staatsamptenaar het ernstige beserings tydens die ongeluk opgedoen.

“ʼn Munisipale vragmotor het net na 10:00 teen ʼn amptelike voertuig met blouligte gebots. Albei voertuie het in die rigting van Durban gery,” het Luyanda Majija, ʼn woordvoerder van ER24, gesê.

“Die staatsamptenaar het ernstige beserings opgedoen. Hy is op die toneel gestabiliseer, waarna hy na die Hillcrest-hospitaal geneem is vir verdere behandeling. Hy is saam met sy bestuurder en lyfwag na die hospitaal geneem. Die bestuurder en lyfwag het geringe beserings opgedoen.”

Majija het gesê ʼn ooggetuie, wat die ongeluk in sy truspieëltjie sien gebeur het, het gesien hoe die medium-grootte vragmotor oor die snelweg gery en teen die voertuig gebots het. Die twee mans in die vragmotor, albei in hul 40s, het geringe beserings opgedoen.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.