Poetin roep troepe terug na basisse

‘n Russiese soldaat. Foto: Reuter

‘n Russiese soldaat. Foto: Reuters

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het die troepe wat aan ‘n gevegsoefening in die Weste van Rusland deelneem, na hul basisse teruggeroep. Rusland het strykdeur volgehou dat die oefening niks met die verwikkelinge in die Oekraïne te make gehad het nie.

Intussen is dit nog nie duidelik of Rusland enige uitvoering gegee het aan sy ultimatum dat soldate van die Oekraïne in die Krim-skiereiland teen vanoggend vieruur moes oorgee, of gewapende gevolge moes dra nie. Rusland het die Krim vir alle praktiese doeleindes beset in wat as die “stil oorlog” bekend staan. Die Russiese soldate in die Krim is veel meer, en beter bewapen as dié van die Oekraïne.

Die Oekraïne hou vol dat hy nie die Krim aan enigeen sal afstaan nie. Kenners van Rusland meen dat Poetin binnelands baie steun kan verloor indien hy sou toelaat dat die Oekraïne uit die Russiese invloedsfeer wegbreek.

Intussen het die VSA aangekondig dat hy alle militêre samewerking met Rusland staak. Die Europese Unie dreig met sanksies teen Rusland. Die Russiese roebel se waarde het skerp geval tot sy laagste vlak ooit, en is nou net twee eurosent werd, en die aandelebeurs het ‘n liederlike hou weg.

Die Russiese sentrale bank moes sy rentekoers verhoog.

Die styging is die pryse van goud, platinum en olie word tot ‘n groot mate aan die krisis toegeskryf.

Die VSA en Brittanje het in die VN duidelik standpunt ingeneem dat die Russiese inval in die Krim in stryd met die internasionale reg is. Rusland se ambassadeur by die VN het egter verklaar dat Rusland deur die afgesette president van die Oekraïne, wat Rusland steeds as die wettige president erken, om hulp genader is om “terreur teen andersdenkendes” te beskerm.

Vroeër het Poetin die inval geregverdig deur te sê dit is gedoen weens die optrede van “ultra-nasionaliste”.

Rusland het intussen aangekondig dat die beplande projek om ‘n brug oor die smal seestraat tussen Rusland en die Krim te bou, bespoedig word.

Kenners meen Rusland het nie ‘n kuberaanval op die Oekraïne geloods soos met ander voormalige Sowjet-state gebeur het wat uit die Russiese invloedsfeer losgebreek het nie, omdat dit die een terrein is waar die Oekraïne in dieselfde munt kan terugslaan, en selfs dalk beter toegerus is as Rusland.

Intussen is daar teenstrydige berigte dat die oefenwedstryd tussen die sokkerspanne van die Oekraïne en die VSA wat Woensdag in Siprus sou plaasvind, van die baan is. Na berig word voel die Oekraïne dat die toestand in die land nie so ‘n wedstryd regverdig nie, maar die Amerikaanse sokkerliggaam hou vol dat die wedstryd steeds plaasvind.

Bronne: Trouw, De Standaard, Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.