Polisie besluit of hulle teen interdik gaan appelleer

Dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, praat met die media tydens een van die vakbonde se vorige regstellendeaksiesake in die arbeidshof in Johannesburg.

Nathi Mthethwa, die minister van polisie, het Maandag ontvangs erken van ʼn arbeidshof-interdik om alle bevorderings ingevolge die nuwe rangstelsel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te stop.

Zweli Mnisi, die minster se woordvoerder, het aan Maroela Media gesê die polisie se regspan is tans besig om die uitspraak te bestudeer, waarna hulle sal besluit of hulle daarteen gaan appelleer.

Maroela Media het Saterdag berig die arbeidshof in Johannesburg het alle bevorderings ingevolge ʼn nuwe rangstelsel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gestop.

Die arbeidshof het ʼn interdik aan Solidariteit toegestaan nadat die vakbond geargumenteer het dat die plan op rassekwotas neerkom en dat Solidariteit in ʼn hofsaak met die SAPD gewikkel is waarin gevra word dat die regstellendeaksieplan van die polisie ongeldig verklaar word. Regter Anton Steenkamp het bevind dat die SAPD nie mag voortgaan om polisielede volgens die nuwe rangstelsel te bevorder voordat die hofsake wat Solidariteit vroeër oor dié omstrede rangstelsel en die polisie se regstellendeaksieplan aanhangig gemaak het, nie aangehoor is nie.

“Dit is ʼn ingrypende uitspraak. Regstellendeaksie-uitsprake het in die verlede gefokus op individuele sake. Hierdie uitspraak het tot gevolg dat minstens 1 500 bevorderings teruggehou word tot Solidariteit se regstellendeaksie-sake afgehandel is,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.