Polisie eis glo R1 miljoen voor ANC-jeugliga mag optogte hou

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens dring glo daarop aan dat die ANC-jeugliga R1 miljoen moet betaal voor hy toestemming sal kry om later die week massa-optogte te hou in Gauteng.

Die Sowetan berig optogte wat vir Donderdag en Vrydag beplan word sal slegs gehou kan word indien die jeugliga daarvoor betaal. ʼn Woordvoerder van die jeugliga, Floyd Shivambu, sê die polisie eis die betaling om die koste van enige skade wat moontlik aangerig kan word, te dek. Shivambu sê die jeugliga het dit egter aan die polisie duidelik gemaak dat hy nie vir die beplande optogte sal betaal nie. “Waar het hulle al gehoor van mense wat moet betaal om bymekaar te kom? Dit is onwettig, ongrondwetlik en onaanvaarbaar dat hulle geld eis van die ANC-jeugliga”. Die polisie in Gauteng het alle navrae na die Johannesburgse metropolisie verwys. ʼn Woordvoerder van die metropolisie, Edna Mamonyane, sê egter die jeugliga is toestemming gegee om die optogte te hou maar dat hulle toegang geweier is tot die provinsie se grootste hoofwee. Sy sê daar is egter ʼn vergadering oor die kwessie belê en dat daar later meer besonderhede in die verband sal wees.

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, het intussen die naweek verskeie gemeenskappe in Gauteng besoek om steun te werf vir die jeugliga se beplande optogte. Malema het Sondag in die Bantu Bonke-township in die Vaaldriehoek gepraat waar hy glo aan sy ondersteuners gesê het “ons wil alles hê wat witmense het, dit is waarvoor ons veg”. Die jeugliga se optog sal Donderdag in Johannesburg begin en Vrydag by die Uniegebou in Pretoria eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.