Polisie glo by huisroof betrokke

Argieffoto: www.sa-transport.co.za

Die polisie ontken bewerings dat polisievoertuie die afgelope naweek betrokke was by ʼn huisroof in Midrand.

Raymondt Dicks, ʼn regsverteenwoordiger van Johannesburg, was saam met sy seun en ʼn vriend by sy huis in Midrand toe ʼn groep van ses mans by die huis ingestorm, hulle vasgebind en beroof het, het The Star Woensdag berig.

Beeldmateriaal van ʼn versteekte kamera wys hoe drie polisievoertuie, twee polisievangwaens en ʼn Ford Escort in die 600 meterlange straat op en af ry. Dicks het aan die koerant gesê die vangwaens het die pad afgesper toe die rowers sy eiendom betree het. Hy beweer ook die gesteelde goedere is in die polisievoertuie gelaai.

Luitenant-kolonel Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het Donderdag gesê daar is geen bewyse dat polisievoertuie in die voorval betrokke was nie. “Ons het die beeldmateriaal gesien en daar is geen bewyse dat dit amptelike polisievoertuie was nie. Ons is besig om verklarings van die ooggetuies te neem en die voorval word ondersoek. ʼn Saak van huisroof is oopgemaak,” het Dlamini gesê.

–   Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.