Polisie het glo 14-jarige doodgeskiet

Argieffoto

‘n Polisiebeampte het Vrydag glo ‘n 14-jarige seun in Palmietfontein naby Aliwal-Noord in die Oos-Kaap doodgeskiet.

“Die seun is geskiet toe die polisie gepoog het om te verhoed dat die gemeenskap onwettig sou vergader,” het Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), Maandag gesê. Volgens Dlamini het die gemeenskap verdaag, maar later weer bymekaar gekom.

“Na bewering het die polisie opgedaag en lede van die gemeenskap aangerand en op hulle geskiet,” het Dlamini gesê. Die polisiebeamptes het boonop glo balaklawa-musse gedra.

Die seuns is glo aangerand, gemartel en gedwing om opstote te doen. “Die seuns is glo ook aangesê om te hardloop, en terwyl hulle gehardloop het, het die polisie op hulle gevuur. ‘n 14-jarige seun is toe doodgeskiet.”

Dlamini sê die skietery is eers aangegee nadat almal van die toneel verdaag het. Opod sal ook ‘n saak teen die polisie aanhangig maak omdat hulle die saak, kragtens artikel 33 van die Opod-wet, so laat aangegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.