Polisie in hof oor vermiste dossier

Twee polisiebeamptes het Maandag in die hof verskyn op aanklag dat ‘n dossier weggeraak het in ‘n saak van aanranding, ontvoering, opsetlike eiendomsbeskadiging en roof, waar een van die beamptes ‘n verdagte in die saak is.

Lt. Thomas Chaya en konst. Desmond Godi het in die Pretoriase streekshof verskyn op aanklag van dwarsboming van die gereg. Godi en sy kollega, konst. Floyd Monana, het glo ‘n vrou in Pretoria ontvoer en aangerand, omdat die vrou glo agterstallig was met die betaling van ‘n elektrisiteitsrekening vir die woonstel wat sy met Monana gedeel het.

“Die aanklaer beweer sy het reeds in die middel van die maand uit die woonstel, wat sy met Monana gedeel het, getrek. Volgens haar sou sy die geld vir die elektrisiteitsrekening oorbetaal sodra die faktuur ontvang is,” het Moses Dlamini, woordvoerder vir die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD), gesê.

Monana en Godi het die vrou op 12 November ontmoet en Monana het haar glo beskuldig dat sy weier om haar helfte van die faktuur te betaal. Die beamptes het haar na die polisiestasie in Sunnyside geneem waar sy konstabel Monana betaal het. Sy het ‘n beëdigde verklaring afgelê waarin sy bevestig dat sy haar skuld aan Monana afbetaal het. Toe die vrou hulle ‘n paar uur later weer ontmoet, het hulle haar glo aangerand, in ‘n polisievoertuig gelaai en die verklaring opgeskeur. “Hulle het haar beskuldig dat sy aan konstabel Monana skuld wat sy reeds aan hom betaal het,” het Dlamini gesê.

Die vrou het na die polisiestasie in Sunnyside gegaan en ‘n klagte teen die twee beamptes gelê. Die saak is by OPOD aangegee.

Monana en Godi is in hegtenis geneem en hulle het op 14 November in die hof verskyn waarna hulle elk op R1 000 borgtog vrygelaat is. Volgens Dlamini het hierdie dossier vermis geraak en Godi is vir ‘n tweede keer in hegtenis geneem, en Chaya op 22 November. Hulle word van dwarsboming van die gereg aangekla. “Chaya sê hy het die dossier aan Godi gegee en Godi kon nie verduidelik waar die dossier is nie,” het Dlamini gesê.

Beide mans is op R1 500 borgtog vrygelaat en moet op 12 Desember weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.