Polisie lê beslag op dwelms van R8 miljoen in Kaapstad

Die polisie het Maandagaand beslag gelê op dwelms met ʼn straatwaarde van sowat R8 miljoen tydens ʼn klopjag in Kaapstad.

Die Valke en Misdaadintelligensie het ʼn 39-jarige Nigeriër man in hegtenis geneem wat 2 kg Tik in sy besit gehad het, het lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie gesê. Die man se woonstel in Somersetstraat in Groenpunt en sy klub in Darlingstraat is deursoek. ʼn Woonstel in Buitenkantstraat wat glo vir die vervaardiging van dwelmmiddels gebruik is, is ook deursoek. Die polisie het onder andere beslag gelê op kokaïen, heroïen en metamfetamien. Die polisie het ook beslag gelê op R250 000 kontant in ʼn huis in Table View wat glo inkomste uit die verkoop van dwelmmiddels was.

Die polisie beskou dié klopjag as ʼn betekenisvolle terugslag op dwelmhandel in die Wes-Kaap.

Die verdagte was die fokus van speurders se ondersoek ná ʼn geheime transaksie in Adderleystraat in Kaapstad. Die vermeende dwelmhandelaar sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.