Polisie moet opdok na martel-voorval

Die hooggeregshof in Pretoria het die minister van polisie Dinsdag beveel om R170 000 se skadevergoeding aan ʼn voormalige veiligheidswag te betaal.

Regter Aubrey Ledwaba het beveel dat die polisie dié bedrag aan Mike Neo Mofekeng moet betaal nadat hy in November 2009 onregmatig in hegtenis geneem, aangehou en gemartel is deur die polisie. Mofekeng het in September 2009 ʼn rooftog by die polisie aangemeld. Die rooftog het glo die by die besigheid waar hy as veiligheidswag gewerk het plaasgevind. Mofekeng is sowat ʼn maand later in hegtenis geneem en na die Johannesburg Sentraal-polisiestasie geneem waar hy vir twee dae aangehou is voor hy weer vrygelaat is. Volgens Mofekeng is sy hande geboei en sy voete aanmekaar vasgemaak terwyl deur twee polisiebeamptes ondervra is. Die polisie het glo ʼn pyp in sy gesig hou en dan water daarin afgegooi om hom glo te versmoor.

Die polisiebeamptes het glo ook op hom gesit en teen sy kop geslaan. Mofekeng het getuig dat hy ʼn storie opgemaak het en erken het dat hy R20 000 gekry het vir sy rol in die “rooftog” aangesien hy in ondraagbare pyn was en gevrees het vir sy lewe. Mofekeng is toe na sy tannie se huis geneem om vir die “geld” te soek en is weer aangerand en gedreig toe hy aan die polisie gesê het dat hy die storie opgemaak het. Die polisiebeamptes het egter ontken dat Mofekeng ooit aangerand is. ʼn Mediese verslag wat by die hof ingedien is, het egter die teenoorgestelde bewys. Regter Ledwaba het bevind dat die polisie Mofekeng op die van sy arrestasie weer kon vrylaat en dat die polisie onwettig, ongegrond en kwaadwillig opgetree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.