Polisie moet R40 m. opdok na rooftog

Die polisie moet nagenoeg R40 miljoen aan ʼn Britse maatskappy betaal nadat geld wat by ʼn polisiestasie gehou is, gesteel is.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is van voorneme om aan die hofbevel te voldoen. Daar moet egter daarop gelet word dat die SAPD aansoek gedoen het om teen sekere dele van die uitspraak te appelleer,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, aan die Sunday Times gesê. Hy sê hulle wag steeds op ʼn datum vir die appèl. Die bevel is vroeër vanjaar in die hooggeregshof in Johannesburg gemaak na ʼn rooftog by die OR Tambo-lughawe in 2006. Ses mans is in 2012 daaraan skuldig bevind dat hulle ʼn besending banknote ter waarde van R100 miljoen gesteel het van ʼn vliegtuig wat van Londen gearriveer het. Die rowers is vasgetrek en die geld is verhaal. Die geld is na die Benoni-polisiestasie geneem waar dit in ʼn kluis gehou is. R14 miljoen daarvan is egter gesteel. Regter Nigel Willis het beveel dat die diefstal van die geld ʼn “nagebootste inbraak” was. “Dit is duidelik dat die geld slegs deur polisiebeamptes geneem kon word. Toegang tot die kluis kon slegs verkry word deur die kennis van polisiebeamptes.” Nathi Mthethwa, minister van polisie, is gevolglik beveel om R40 miljoen te betaal. Die bedrag sluit sewe jaar se rente en regskostes in. Die hof het verder beveel dat Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, weer moet kyk na ‘n ondersoek waar drie polisiebeamptes aanvanklik geskors en van die diefstal aangekla is maar die aanklagte teen hulle later teruggetrek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trudie ·

Hmmmm……gaan kyk wie in die polisiestasie leef skielik soos konings!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.