Die ANC se voormalige hoof van die presidensie, Smuts Ngonyama, sê die polisie moet ʼn ondersoek doen om te bepaal of daar regtig ʼn aanslag was op pres. Jacob Zuma se lewe toe hy nog adjunk-president was.
Ngonyama, wat nou by Cope is, het aan EWN gesê hy onthou die bewerings maar sê daar was nooit bewyse van die beweerde komplot nie. Zuma het Saterdag in Durban tydens die begrafnis van een van sy lyfwagte, gesê dat daar ʼn sluipmoord-komplot was om hom om die lewe te bring. Hy het gesê die komplot is egter gefnuik deur lojale lyfwagte wat glo geweier het om deel daarin te hê. Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, wou nie uitbrei op die bewerings nie en sê dit is deel van die verlede. ʼn Politieke ontleder, Adam Habib, sê dit is onverantwoordelik van die president om te onthul dat daar ʼn sluipmoord-komplot was en dan te weier om enige verdere besonderhede bekend te maak.