Polisie: Niemand nog vas na verkragting, moord in Modimolle

Die polisie het Woensdagmiddag die foto uitgestuur van Johan Kotze wat 'n verdagte is in die saak.

Die polisie sê berigte dat ʼn verdagte vasgetrek is nadat ʼn vrou van Modimolle (Nylstroom) deur drie werkers verkrag is en haar seun doodgeskiet is, is vals.

ʼn Polisiewoordvoerder, brig. Hangwani Mulaudzi, sê die polisie soek steeds na ʼn verdagte in die saak, Johannes Kotze (50). “Die landwye soektog na Kotze gaan steeds voort. Ons het die polisie in Kimberley gekontak en hulle is nie bewus van enige inhegtenisneming of die oorsprong van die gerugte nie,” het Mulaudzi omstreeks 17:50 Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê. Beeld het Woensdagmiddag op sy webtuiste berig dat ʼn man in Kimberley in hegtenis geneem is in verband met die voorval.

Die pa van die seun wat doodgeskiet is, het intussen aan Maroela Media gesê dat sy eksvrou, wat glo deur die drie werkers verkrag is, na haar huidige man se huis gelok is. “Sy sê hy het haar gebel en gevra dat sy na sy huurhuis in Modimolle kom sodat hulle kan praat oor die egskeiding. Hulle is die afgelope paar maande vervreem terwyl hulle besig is om te skei. Toe sy by sy huis aangekom het, is sy oorval en verkrag.” Hy sê sy seun is ook later geskakel en gevra om na die huis te kom. “Hy het gesien sy ma is aan die bed vasgemaak en het hulle gevra om haar nie seer te maak nie. Toe is hy geskiet.” Die 19-jarige seun is op die toneel dood.

Die polisie het vroeër vandag in ʼn verklaring gesê dat ʼn man en drie van sy werkers glo omstreeks 17:00 Dinsdagmiddag by sy vervreemde vrou se huis in Modimolle (Nylstroom) opgedaag het. Hy was glo met ʼn .22 gewapen. Die man en sy drie werkers het glo sy vrou op die bed vasgemaak waarna hy die drie mans glo gedwing het om sy vrou te verkrag. Terwyl die drie mans die vrou verkrag het, het haar 19-jarige seun glo by die huis aangekom waarna hy doodgeskiet is. Die man het gevlug in ʼn wit Toyota Fortuner met die registrasienommer DCS392FS. Die drie ander verdagtes het ook op die vlug geslaan.

Enigiemand met inligting kan lt. kol. Malisela Mohale skakel by 082 565 8606.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.