Polisie ondersoek 10111-taalklagte

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie het reeds tugstappe gedoen teen die persoon wat nie bereid was om ‘n noodoproep in Afrikaans te hanteer nie, nadat die burgerregte-organisasie AfriForum dit onder hulle aandag gebring het.

AfriForum is tydens ʼn vergadering tussen die Gautengse hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se 10111-nooddienssentrum en AfriForum, verseker dat die klag oor ʼn gebrek aan Afrikaanse diens deur ʼn 10111-operateur ernstig opgeneem is. Hierdie vergadering spruit voort uit ʼn voorval twee weke gelede toe ʼn noodoproep van AfriForum beëindig is na om Afrikaanse diens gevra is.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies, is AfriForum verseker dat dissiplinêre stappe reeds gedoen word teen die persoon wat nie bereid was om in Afrikaans diens te lewer nie. Verder word sover moontlik verseker dat meertalige diens tydens alle skofte gelewer kan word. Indien ʼn operateur nie die inbeller se verlangde taal kan praat nie, sal alles moontlik gedoen word om die oproep te herlei na iemand wat wel kan help.

Na die bogenoemde voorval het AfriForum ʼn klagtelyn geskep om te verneem of lede van die publiek soortgelyke probleme ondervind het en verskeie klagtes is van regoor die land ontvang. Dit is ook onder die SAPD se aandag gebring.

Die SAPD het versoek dat mense wat nie tevrede is met die diens van 10111-dienssentrums nie, die saak by die klagtelyn 0860 13 0860 moet aanmeld. Dit is noodsaaklik om te verseker dat probleme geïdentifiseer en opgelos kan word.

ʼn Groot probleem is dat mense die nooddienslyn misbruik met beuselagtighede en poetsoproepe. Oor ʼn enkele naweek het Gauteng se dienssentrum byvoorbeeld 40 000 oproepe hanteer waarvan net 3 500 werklik ernstig was. Dit plaas die personeel onder geweldige druk, het tot gevolg dat die oproepe van mense in lewensbedreigende omstandighede onbeantwoord bly en vermors duur hulpbronne waarvoor belastingbetalers moet opdok. AfriForum het onderneem om die SAPD te help om die publiek bewus te maak van die feit dat 10111 ʼn diens vir die aanmeld van noodsituasies is waar onmiddellike bystand verlang word of die bedreiging van lewens ter sprake is.

“AfriForum waardeer die erns waarmee die SAPD ons klagtes hanteer het en sal graag help om te verseker dat die 10111-nooddiens nie misbruik word nie. Ons sal ons lede deurgaans inlig dat hulle alternatiewe nooddiensnommers soos dié van die brandweer en ambulansdienste moet memoriseer en nie 10111 moet skakel as dié dienste verlang word nie,” het Bailey gesê. “Verder moet mense ook onthou dat beuselagtighede soos ʼn raserige hond in die buurt nie ʼn rede is vir ʼn oproep na 10111 nie, al is die geblaf hoe irriterend. Ouers moet ook hulle kinders daarvan bewus maak dat ʼn poetsoproep na 10111 letterlik iemand se lewe kan kos en onder geen omstandighede geduld kan word nie. Dis misbruik van die noodlyn is ʼn strafbare oortreding.”

Die SAPD en AfriForum sal kontak hou om enige verdere taal- of ander probleme met die nooddienslyn saam te probeer aanpak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sanet van der Bank ·

Ek vra ook gewoontlik wanneer ek ‘n “call centre” bel om in Afrikaans gehelp te word indien die opsie deur die druk van ‘n nommer nie beskikbaar is nie. Dit het ook al gebeur dat die engels sprekende persoon arrogant was met my en my gevra het of ek dan Xhosa kan praat. Toe my antwoord nee was word daar geantwoord nou waarom moet hy Afrikaans praat as ek nie kan Xhosa praat nie. Verder gaan ek niks sê nie want ek gaan my net meer en meer vererg.

Gene ·

Sanet, in my werk moet ek gereeld met inbelsentrums werk, en ek het al dieselfde reaksie by sommige mense gekry. Veral die poskantoor het ook dieselfde reageer toe ek vra om in Afrikaans gehelp te word.
My redenasie is net dat as ons aandring om in Afrikaans gehelp te word, hulle gedwing gaan word om Afrikaansspekendes in diens te neem. Dus sal ek nie ophou om daarop aan te dring nie, dis nodig vir ons volk se toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.