Polisie ondersoek hartoorplantingspasiënt se dood

Paul John Thesen Foto: Facebook

Paul John Thesen Foto: Facebook

Die polisie ondersoek die afsterwe van Paul Thesen, een van die wêreld se langslewende hartoorplantingspasiënte, het sy suster Sondag gesê.

“Beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Paul bewusteloos aangetref agter die stuur van sy motor in die hoofstraat van Alexandria in die Oos-Kaap,” het Robin Thesen-Smith in ʼn verklaring gesê. “Sy voertuig was nie beskadig nie.”

Sy sê haar 48-jarige broer is Woensdag aangetref en het ʼn kopwond gehad. “Die oorsaak van die besering is nog nie bekend nie, maar die polisie ondersoek die saak.”

Thesen-Smith sê haar broer het in 1980 sy eerste hartoorplanting gehad van ʼn 14-jarige Xhosa-seun. Sy tweede hartoorplanting was drie jaar later. Dié skenker was ʼn meisie wat noodlottig beseer is in ʼn motorongeluk.

Sy het ʼn berig in die Saturday Star, dat daar omstredenheid was rondom sy eerste hartoorplanting, as “leuens en ʼn versinsel van ʼn ooraktiewe verbeelding” beskryf. Die koerant het Paddy Chapple, wat glo ʼn vriend van Thesen was, aangehaal en gesê Thesen het vier ure lank op die operasietafel gelê totdat die apartheidsregering besluit het dat ʼn hart “neutraal” raak sodra dit ʼn liggaam verlaat, en dat Thesen nog steeds as “wit” geklassifiseer mag word.

“Die feit dat die eerste skenkershart van ʼn Xhosa-man was, is hoegenaamd nie relevant nie. Ons hele familie en die oorplantingspan was verheug dat daar ʼn geskikte skenker was.”

Dr. Chris Barnard en sy broer, Marius Barnard, het die oorplantings behartig.

Volgens Thesen-Smith moes haar broer daagliks ʼn handvol medikasie gebruik om seker te maak dat sy liggaam nie die weefsel verwerp nie. Hy het later jare ook ʼn hartomleidingsoperasie ondergaan en ʼn pasaangeër ontvang. Ondanks sy gesondheidsprobleme het Thesen glo in die 1980s aan die Paralimpiese Spele in Switserland deelgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.