Polisie ondersoek kind se “rot-dood”

Die bedjie waarin die seun gevind is. Foto: eNCA

Die bedjie waarin die seun gevind is. Foto: eNCA

ʼn Saak van moord word deur die Gautengse polisie ondersoek nadat die verminkte liggaam van ʼn sewe maande oue babaseuntjie Sondag in ʼn Diepsloot aangetref is.

“Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek gelas, maar ondersoek nou ʼn saak van moord,” het kapt. Tsekiso Mofokeng, ʼn polisiewoordvoerder, Maandag gesê.

Maroela Media het vroeër berig die kind se liggaam is Sondagoggend in ʼn plakkershuis gevind.

Volgens Mofokeng het die polisie op die toneel gesien die kind se voet word vermis. “Verdere ondersoek het daarop gedui dat rotte moontlik die kind se voet afgeknaag het,” het hy gesê. eNCA het ook berig dat daar verskeie byt- en knaagmerke aan die kind se liggaam was en dat die vel op die kind se gesig ook gevreet is.

Die polisie wag nog vir die uitslag van ʼn nadoodse ondersoek om presies te bepaal waaraan die kind dood is.

Volgens Mofokeng is die kind se ma (23) steeds vermis en sy word deur die polisie gesoek. Daar is aanvanklik berig dat die ma die dood by die polisie aangemeld het, maar Mofokeng het dit ontken.

Mofokeng het gesê ʼn saak van moord is oopgemaak ná beweringe dat die ma die kind alleen in die huis gelos het.

ʼn Saak van kinderverwaarlosing is in September teen die ma aanhangig gemaak, wat daartoe gelei het dat haar kinders in die sorg van hul ouma geplaas is. Die ma het Saterdag die babatjie by die ouma gaan haal.

Plaaslike inwoners het glo gesê hulle vermoed dit was ʼn muti-moord, aangesien verskeie liggaamsdele vermis word.

Lees ook:
Verminkte babalykie in Diepsloot opgespoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.