Polisie ondersoek moord na “ongeluk”

Christa Ross. Foto: Kleinmond News

Die Wes-Kaapse polisie het aan Maroela Media bevestig dat hulle ʼn saak van moord ondersoek na die dood van Christa Ross (59), ʼn gastehuiseienaar van Heuningkloof in Kleinmond, nadat daar aanvanklik aangevoer is dat sy verdrink het.

Die polisie het aanvanklik aangevoer dat Christa, wat die gastehuis Rossta saam met haar man Rossie bedryf het, Vrydag in die bad gegly en verdink het. Christa het ʼn afspraak gehad maar nooit opgedaag nie waarna ʼn vriendin ondersoek gaan instel het en op haar liggaam afgekom het. Kapt. FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat hulle ʼn saak van moord ondersoek. “Die omstandighede rakende die voorval, dit sluit vermiste goedere in, is in ʼn baie sensitiewe stadium van die ondersoek; daarom kan geen ander besonderhede bekendgemaak word nie.”

Maroela Media het inligting ontvang dat Christa verwurg is en dat haar nek gebreek was. Al wat glo uit die gastehuis weg is, is Christa se selfoon en een bed se paslaken. Rossie was tydens die voorval onderweg na Johannesburg. Die uitslag van die nadoodse ondersoek is nog nie bekendgemaak nie.

Die polisie het intussen ʼn beroep gedoen op enigiemand met inligting om die ondersoekbeampte, ao. Jackie Human by 028 271 8210 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.