Polisie ondersoek porno-webtuiste

Die polisie se kubereenheid is steeds besig met ʼn ondersoek na die oorsprong van ʼn pornografiese webtuiste genaamd Goboza, wat onder meer selfoonvideos bevat van gewone Suid-Afrikaners wat seksuele dade uitvoer.

EWN berig dat die webtuiste op ʼn Russiese domein geregistreer is en dat meer as 15 videos die afgelope week op die webtuiste opgelaai is. ʼn Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Mthunzi Mhaga, sê hulle wag op die uitslag van die ondersoek voor hulle sal besluit of enigiemand vervolg gaan word. Die webtuiste bevat glo onder meer die berugte video van ʼn polisiebeampte en ʼn beampte van korrektiewe dienste wat seks het in die Leratong-hospitaal. Die video het in Augustus vanjaar opslae gemaak nadat die polisiereservis afgedank is. Intussen word daar berig dat daar ook ʼn video op die webtuiste is van die omstrede Jules High School-voorval . ʼn 15-jarige meisie het in November 2010 beweer dat twee seuns, onderskeidelik 14 en 16 jaar oud, haar op die skoolgrond bedwelm en verkrag het. Ander kinders het glo toegekyk en video’s van die voorval met hulle selfone geneem. Volgens die Sowetan is daar ook ʼn video op die webtuiste van ʼn jong skoolmeisie wat met drie mans seks het terwyl sy nog in haar skooluniform is. Daar is glo ook ʼn video van ʼn meisie wat lyk of sy onder die invloed van alkohol is en deur ʼn groep van sewe mans verkrag word. Die Rolprent- en Publikasieraad, die vroue organisasie POWA en die ANC se vroueliga het reeds gevra dat die webtuiste verwyder word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.