Polisie op die spoor van baba Wiehan se moordenaar

Die polisie het Dinsdag twee verdagtes in verband met die moord op die 5-maandeoue Wiehan Botes en Margrietha de Goede, sy dagmoeder,  aangekeer.

Wiehan en De Goede (66) is verlede Woensdag in De Goede se huis in Delmas, Mpumalanga, verwurg. Wiehan se lykie is onder ’n bed gevind en De Goede onder ’n mat in ’n buitestoorkamer. Private ondersoeker Mike Bolhuis is intussen deur die Botes-gesin aangestel om saam met die polisie die moorde te ondersoek.

Bolhuis het aan Maroela Media bevestig dat Wiets en Rita Botes sy maatskappy as spesialiseenheid aangestel het om die saak te ondersoek. Volgens Bolhuis is die tuinjong van die vermoorde dagmoeder ʼn verdagte in die saak en dat die polisie hom help om die tuinjong op te spoor. Bolhuis het ook bevestig dat waardevolle juwele uit die huis gesteel is.

Bolhuis het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê van De Goede se gesteelde juwele is in die twee verdagtes se besit gevind en daarop beslag gelê.  Die verdagtes is in Daveyton aan die Oos-Rand aangekeer waar die hoofverdagte dit heelwaarskynlik aan hulle verkoop het. Die soektog na die tuinjong, Themba Ephraim Mahlangu, duur nog voort.

“Die Delmas-polisie doen goeie vordering in die saak en is warm op die tuinjong se spoor. Almal in die gemeenskap werk saam en het ingespring om die vermeende verdagte op te spoor. Ek wil almal vir hul betrokkenheid bedank,” het Bolhuis gesê.

Die twee verdagtes moet Donderdag in die hof in Delmas verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.