Die polisie is op soek na ʼn man wat glo betrokke was by ʼn skietery buite ʼn kuierplek in Fourways, noord van Johannesburg, waarin een persoon dood en twee ander beseer is.
Kapt. Lydia Mtila-Dikoloma, woordvoerder van die polisie, sê die onbekende man het na die skietery gevlug. Mtila-Dikoloma sê twee mans het glo vroeg Sondagoggend buite die kuierplek, by die Fourways-winkelsentrum, in ʼn argument betrokke geraak. “Na die argument het een van die mans die winkelsentrum binnegegaan en toe hy weer uitgekom het, het die skietery begin. Drie mense is geskiet. ʼn 25-jarige man is in die hospitaal dood.” Mtila-Dikoloma sê die ander twee mans word steeds in die hospitaal behandel.
Maroela Media het intussen verneem dat die skietery in die parkeerplek buite Tiger Tiger plaasgevind het. Een van die kuierplek se veilighediswagte is glo een van die persone wat in die skietery gewond is.