Polisie op soek na vermiste drawwer

Paule-Henry Botha wat op 11 Oktober 2012 vermis geraak het.

Paule-Henry Botha, ‘n 43-jarige man van Observatory in Kaapstad, word sedert Donderdag verlede week vermis.

Botha se huismaat, Jana Cloete (29), vermoed dat hy vermis geraak het toe hy die Donderdagoggend gaan draf het. Botha het glo gereeld in die oggende gaan draf. Cloete het Maandag aan die Cape Argus gesê dat sy net voor 07:00 op 11 Oktober saam met Botha, ‘n sjef by Silverhurst Estate in Constantia, treinstasie toe gery het. “Hy het sy drafklere aangehad – ‘n rooi T-hemp, swart kortbroek en rooi tekkies. Dit is die laaste keer wat ek hom gesien het,” het Cloete gesê.

Cloete sê Botha het gereeld in die oggende gaan draf en het óf in Crankoweg in Observatory na Liesbeeckpark toe gehardloop, óf in Salt River-weg.

Botha het twee jaar gelede van Johannesburg af Kaapstad toe getrek. Hy bly sedert Januarie vanjaar saam met Cloete en haar maat. Die paartjie het Donderdagaand agterdogtig geraak toe Botha teen 21:00 nog nie tuis was nie. “Dit was vreemd, want sy motor het voor die huis parkeer gestaan. Hy is iemand met ‘n gereelde roetine. Sy werksklere, ‘n hemp, sokkies en langbroek, was steeds mooi opgevou op sy bed. Dit is duidelik dat hy beplan het om werk toe te gaan,” het Cloete gesê.

Paule-Henry Botha Foto: Facebook

Kurt Kitshoff, privaatspeurder, wat deur Botha se werkgewers aangestel is, sê R3 000 is Donderdagoggend by ‘n OTM by Kaapstadstasie uit Botha se rekening onttrek. “Ons wag nou vir die beeldmateriaal van die OTM om uit te vind wie die geld onttrek het,” het Kitshoff gesê.

Kaptein Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie, het bevestig die polisie ondersoek die verdwyning. Enigiemand met inligting word versoek om met sersant Hilton Malila by 021 442 3151 in verbinding te tree, of Crime Stop by 086 001 0111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.