Polisie op spoor van PE-ouma se moordenaar

Suzie Willemse (84). Foto: @SouthAfrica_SOS/Twitter

Die polisie behoort in die volgende drie dae ʼn deurbraak te maak in die moordsaak van Suzie Willemse (84), ʼn bejaarde inwoner van Port Elizabeth wat Dinsdag dood in haar huis aangetref is.

Kaptein Stanley Jarvis, ʼn polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, het Woensdag aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek vars leidrade en is besig om verklarings van getuies te verkry en verder te ondersoek. Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat haar dood verbind kan word met mense wat die afgelope tyd in die gebied rondgeloop en werk soek het.

Maroela Media het Dinsdag berig Willemse (84) se liggaam is Dinsdagoggend in haar huis in die Ferguson-woonbuurt deur haar seun, Eric, aangetref. “Eric het onraad vermoed omdat hy sy sedert Maandag gesukkel het om sy ma, wat alleen bly, telefonies in die hande te kry. Hy het gaan ondersoek instel en omstreeks 11:00 by sy moeder se woning aangekom,” het Jarvis gesê.

Eric het by die toneel opgedaag en gesien die voorhek, voordeur en kanthekkie staan oop. “Daar was tuingereedskap by die kanthek en hy het aanvanklik gedink sy ma is dalk in die agtererf doenig. Toe hy haar nie daar opspoor nie, is hy die huis in waar hy gesien het een van die kamerdeure is van buite gesluit met die sleutel steeds in die deur,” het Jarvis bygevoeg.

Eric het die deur oopgesluit en sy ma se liggaam op die grond langs ʼn bed aangetref. Sy het moontlik versmoor. Haar liggaam was met ʼn kombers toegegooi en haar hande was met ʼn tou agter haar rug vasgebind.

Volgens Jarvis is juweliersware en beddegoed gesteel. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en moord. Hulle is in dié stadium op soek na een verdagte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.