Polisie rand joernalis glo aan oor omkoop-foto’s

SAPD‘n Joernalis van die Daily Sun is glo deur polisielede aangerand nadat hy foto’s geneem het van beamptes wat glo omkoopgeld aanvaar het.

Reggy Moalusi, adjunkredakteur van die Daily Sun, sê Ricky Dire is Saterdag in hegtenis geneem en aangerand nadat hy foto’s geneem het van polisiebeamptes wat glo omkoopgeld van Chinese-winkeleienaars gevat het in Rustenburg, Noordwes. Die winkeleienaars het Dire glo vroeër gekontak en gesê hulle word gereeld deur polisiebeamptes geteister en dat daar omkoopgeld van hulle gevra word. “Die polisie het hom aangerand en hom beledig,” sê Molausi. “Ons het ons prokureurs betrokke gekry en hy is eers vyf ure later vrygelaat.” Molausi sê daar is glo op Dire se selfoon beslag gelê en dat die foto’s daarop afgevee is.

Sers. Kealeboga Molale, woordvoerder van die polisie, sê die beampte wat Dire in hegtenis geneem het, het intussen aanklagte van intimidasie, crimen injuria en verset teen inhegtenisname teen Dire aanhangig gemaak. “Die joernalis is in hegtenis geneem aangesien hy die polisiebeamptes beledig het en teengestaan het toe hulle hom in hegtenis probeer neem het. Die voorval het by ʼn winkelsentrum waar daar ʼn drankwinkel is plaasgevind. Die joernalis was glo dronk.” Molale sê die polisie is nie bewus van die beweerde aanvaarding van omkoopgeld nie. Dire ontken dat hy onder die invloed van alkohol was of hom van inhegtenisname verset het. Thandi Modise, premier van Noordwes, het intussen versoek dat die voorval deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ai toggie ·

Nou was die arme joernalis kastig dronk ! Ek bly in rustenburg! Die polisie is useless hier by ons ! Ek hoop die waarheid kom uit! Kry bietjie Carte Blanche hier!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.