ʼn Gewapende rower het Maandag selfmoord gepleeg kort nadat hy deur die polisie vasgekeer is in die Pretoria middestad.
ʼn Polisiewoordvoerder, lt kol. Tshishikhawe Ndou, sê die man was een van ʼn groep van drie rowers wat ʼn motoronderdele-onderneming op die hoek van Bloed en Prinsloo straat beroof het. Die drie gewapende mans het kliënte op die perseel van geld en hulle selfone beroof voor een van die werknemers die paniekknoppie gedruk het en die polisie opgedaag het. Ndou sê die rowers is onkant gevang deur die polisie se vinnige teenwoordigheid en twee van die drie verdagtes het hulle oorgegee. Die derde rower het homself egter doodgeskiet. Hy is op die toneel dood verklaar. Die ander twee verdagtes sal binnekort in die Pretoria landdroshof verskyn.