Polisie skiet glo 2 wat betoog oor vrou se gru-dood

Argieffoto

Argieffoto

Twee betogers is Dinsdagaand in Relela naby Tzaneen in Limpopo glo deur polisiebeamptes doodgeskiet. Altesaam agt betogers is nou sedert die begin van die jaar glo weens die polisie se optrede dood.

Brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die twee mans, onderskeidelik 25 en 40 jaar oud, is by die polisiestasie in die gebied geskiet. “Nagenoeg 1 500 gewelddadige betogers, gewapen met petrolbomme en klippe, het die polisiestasie aangeval,” het Mulaudzi gesê. “Vyftien polisiebeamptes is beseer, waarvan drie kritiek is. Altesaam 19 polisievoertuie is beskadig.”

Mulaudzi het gesê die betogers se doel was duidelik en dat die polisiebeamptes opgetree het om hulself te beskerm.

“Enigiemand wat in gisteraand [Dinsdagaand] se situasie was, sou soos die beamptes opgetree het om hul lewens te beskerm.”

Nege mense is in hegtenis geneem in verband met openbare geweld.

Mulaudzi het die Relela-gemeenskap versoek om nie hul grondwetlike regte te misbruik deur polisiebeamptes aan te rand nie.

Die gemeenskap betoog sedert verlede Vrydag nadat die liggaam van ʼn vrou in die omgewing gevind is. Maroela Media het oor die gru-moord berig. Die 20-jarige vrou se liggaam, wie se hande afgesny is, is Vrydag dood aangetref in Limpopo met haar selfoon en sleutels in haar oopgesnyde maag. Die polisie het toe gesê hulle kan nie die moontlikheid uitsluit dat dit ʼn ritueelmoord was nie.

Die polisie het Saterdag twee mans ondervra in verband met haar moord, waarna die gemeenskap gewelddadig geraak het. Die twee mans en die slagoffer se kêrel se huise is aan die brand gesteek. Die twee mans is intussen vrygelaat, aangesien hulle nie aan die vrou se moord verbind kon word nie.

Die polisie het tydens die brandstigtings ingetree en glo ʼn 15-jarige seun doodgeskiet. Ballistiese toetse word nog gedoen om te bepaal watter beampte die tienerseun geskiet het.

Mulaudzi het Woensdag gesê die situasie in die gebied is baie gespanne. Genl. Riah Piyega, nasionale polisiehoof, gaan na verwagting vandag die gemeenskap besoek.

Op 13 Januarie is Osiah Rahube en ʼn fotograaf, Michael Tshele, glo deur polisiebeamptes doodgeskiet tydens ʼn waterbetoging in Brits. ʼn Derde man, Lerato Seema, is ʼn dag daarna in die gebied dood nadat hy glo vanuit ʼn bewegende polisie-njala gespring het. ʼn Vierde persoon is op 19 Januarie in die hospitaal dood, nadat hy aan sy beserings beswyk het. Hy is tydens die Brits-betoging in die kop gewond.

Tshepo Babuseng (28) is op 23 Januarie in Durban Deep, Roodepoort, glo deur ʼn polisiebeampte doodgeskiet tydens ʼn betoging oor behuising. Die polisiebeampte en drie kollegas is in hegtenis geneem en gaan na verwagting Maandag in die hof verskyn. -SAPA

Lees ook:
Sesde polisie-skietdood vir jaar ná vrou se wrede moord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

nag nella ·

NAG NELLA!!!!

Polisie stasies word nou al aangeval!

Wonder iemand nie dalk hoekom nie? (Soos die regeering byvoorbeeld?)

Wat is volgende?

HARRY ·

polisie is veronderstel om rubber koels te gebruik wanneer hulle triggerhappy raak.

Grassie ·

Die betogers het nie met rubberklippe en bottels water gegooi nie – dit was regte klippe en petrolbomme. 15 is beseer, waarvan drie ernstig is. Wie dink jy betaal vir daardie 19 polisievoeruie wat beskadig is? Is jy `n belastingbetaler? Dink `n bietjie mooi, dan sal jy nie sulke nonsies kwytraak nie.

Eben ·

Harry ek stem saam jou die polisie is nie veronderstel om net skerppunt te skiet. As hulle meer respek afdwing by die publiek sal dit nie gebeur nou doen hulle nie en verdien alles wat na hulle kant kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.