Polisie skiet rower in boud

ʼn Vermeende rower is Donderdagoggend geskiet en gewond ná ʼn wilde jaagtog en ʼn oor-en-weer skietery met die Gautengse polisie.

“Die polisie het onraad vermoed toe hulle ʼn Nissan 1400-bakkie sonder ʼn agterbak, vol sakke, in Orange Grove gesien ry het,” het konst. Thabo Malatji, ʼn polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie wou die bakkie in Louis Botharylaan aftrek, maar die bestuurder het weggejaag en ʼn rooi verkeerslig verontagsaam.

Die jaagtog het aangehou tot op die hoek van Ivyweg en Sidoniarylaan in Norwood, waar drie verdagtes uit die bakkie gespring en op die polisie begin skiet het.

Die polisie het teruggeskiet en ʼn verdagte is in albei sy bene en sy boud geskiet.

“Die ander verdagtes het gesien hul medepligtige word geskiet en het weer in die voertuig gespring, weggejaag en hom op die toneel agtergelaat. Die verdagte is onder polisiebegeleiding in ʼn plaaslike hospitaal opgeneem. Die ander twee verdagtes is nog soek,” het Malatji gesê.

Die polisie het beslag gelê op twee 9mm-pistole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.