Polisie soek steeds na oud-spioen se moordenaar

Michelangelo Towers in Sandton, Johannesburg Foto: michelangelo.tova.co.za

Michelangelo Towers in Sandton, Johannesburg Foto: michelangelo.tova.co.za

Die polisie is steeds op soek na die persoon wat die voormalige spioenhoof van Rwanda, Patrick Karegeya, in sy luukse hotelkamer in Sandton, Johannesburg, vermoor het.

“Ons volg alle leidrade,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, Vrydag gesê.

Karegeya se liggaam is Woensdag omstreeks 17:30 in die Michelangelo Towers in Maudeweg, Sandton, aangetref.

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie in Gauteng, het gesê sy kan nie dadelik kommentaar lewer oor die ontwikkelinge in die ondersoek nie. Sy wou ook nie berigte ontken of bevestig dat sekuriteitsbeeldmateriaal van die hotel deel vorm van die ondersoek nie. “Dit is polisieprosedure dat kringtelevisiebeeldmateriaal deur die ondersoekbeamptes nagegaan sal word indien dit beskikbaar is nadat ʼn misdaad gepleeg is,” het Mogale gesê.

Sy het Donderdag gesê Karegeya se nek was opgeswel. ʼn Bebloede handdoek en tou is in die hotelkamer se kluis opgespoor. “Die moontlikheid bestaan dat hy gewurg is,” het sy gesê.

Karegeya (53) het Sondag by die hotel ingeboek. Hy was die voormalige hoof van Rwanda se buitelandse intelligensiediens en het al die afgelope paar jaar in Suid-Afrika in ballingskap geleef.

Die New Age het Vrydag berig dat ʼn man, wat as Apollo Kiririsi bekend gemaak is, glo gesoek word in verband met die moord.

Een van Karegeya se familielede, David Batenga, het glo aan die koerant gesê hy en sy oom het Kiririsi by ʼn Gautrain-stasie opgelaai en hom na die Michelangelo Towers geneem.
Batenga het die mans ná ʼn paar uur verlaat, en Dinsdagaand probeer om Karegeya op sy selfoon te skakel, maar kon nie antwoord kry nie. Die polisie is die volgende dag in kennis gestel toe sy selfoon steeds nie aangeskakel is nie, het the New Age berig. -SAPA

Lees ook:
Oud-spioen van Rwanda in JHB vermoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.